26 Oktober 2025

Facebook
WhatsApp
Inhoud
Woon en wandel deur die Woord

 Joël 2:23-32 en Psalm 65, Jeremia 14:7-10, 19-22 en Psalm 84:1-7,
2 Timoteus 4:6-8, 16-18, Lukas 18:9-14 

Gebedskers:

Ons bid vir wysheid in besluite, vir krag met elke dag se uitdagings, en vreugde in elke klein oorwinning. 

SONDAG, 26 Oktober

BAIE WELKOM BY DIE EREDIENS!
HERVORMINGSFEES 
Dankie dat u met u offer by die deure inhaak by
Jan Kriel Instituut

• 8:40 Gebedsgeleentheid in die konsistorie – Almal is hartlik welkom!
• 9:00 Oggenddiens – Prediker: Ds Petri Coetzee
Die Kleuterkerk-kinders sowel as die Graad 1-3 kinders woon die Kindermoment aan die begin van die erediens by en verdaag dan na hulle lokale: 4 jaar tot Gr R – Die Ou Waenhuis. Gr 1 – Anneks en Kerksentrum. Gr 2 + 3 – Kerksentrum. 
Die Gr 4’s – 11’e woon die erediens soos gewoonlik by en het daarna kategese. 
• 10:00 Teedrinkgeleentheid in die Pastoriesaal – Almal is hartlik welkom!

SONDAG, 2 November

Dankie dat u met u offer by die deure inhaak by
Magdalenahuis

• 8:40 Gebedsgeleentheid in die konsistorie – Almal is hartlik welkom!
• 9:00 Oggenddiens, DOOPDIENS – Prediker: Ds Brits Janse van Rensburg
➔ Kleuters tot Gr 3 bly in die kerk, en het nie kategese nie.
Die Gr 4’s – 11’e woon die erediens soos gewoonlik by en het daarna kategese.
• 10:00 Teedrinkgeleentheid in die Pastoriesaal – Almal is hartlik welkom!

BESOEKERS

Welkom by ons erediens! As dit jou eerste keer by ons gemeente is, is ons so opgewonde om jou hier te hê. Jy is deel van ‘n familie waar liefde, geloof en gemeenskap bymekaar kom. Mag vandag se diens jou hart ophef, vir jou vrede bring, en jou inspireer op jou reis met God. Ons nooi jou uit, om na die diens saam met ons ‘n koppie tee/koffie te geniet in die pastoriesaal by die Kerk Sentrum. Ons sal graag met jou wil kennis maak. Daar is ‘n boek by die ingange waar jy jou besonderhede kan inskryf, en die Kerk Kantoor sal met jou kontak maak.

BARMHARTIGHEID

Goeie tweedehandse klere teen billike pryse – Word gerus deel van ons WhatsApp-groep, Van my na jou, en kry goeie tweedehandse klere, wat ons as skenkings ontvang het, teen baie billike pryse te koop. Foto’s van die klere word elke Sondag opgesit.
➔ Stuur ‘n WhatsApp na Anne-Marie Laubscher (Barmhartigheidspan) by 082 327 1683 as jy deel wil word van die groep!

Brood en blikkie-projek: Ons is betrokke by ’n projek waar ons gemeente eenmaal per maand ±50 papiersakke met ’n halwe brood en ’n blikkie proteïenryke kos na Badisa neem om daar uitgedeel te word. Indien u ’n blikkie of twee vir dié doel wil bydra, kan dit asb in die boksies by die kerkdeure geplaas word.

Huis Wittekruin wegneem-etes: Huis Wittekruin verskaf heerlike wegneem-etes van Maandag tot Vrydag teen R50 ‘n ete. Woensdae se ete sluit nagereg in en kos dan R55. Kontak hulle gerus vir verdere inligting by 022 713 2230/9.

STILWORDDIENS (ADORAMUSDIENS)

Neem ‘n blaaskans uit die gejaag van die week en kom vind rus in die Here se teenwoordigheid.

Ons nooit u hartlik uit na ons Woensdae Stilword- Adoramusdienste om 17:45-18:15. Dit is ’n geleentheid waar jy op ’n gestruktureerde wyse in die teenwoordigheid van God kan stil word, en toelaat dat sy Woord iets in jou hart kom doen. Gebruik die geleentheid om by God te kom rus. Dit vind plaas in ons kapel (konsistorie) by die Kerk.

SENIOR LIDMATE

Silwer Vleuels Senior Klub: Hulle kuier saam op Woensdag-oggende vanaf 9:30 in Die Ou Waenhuis. Alle senior dames wat belangstel om by hulle aan te sluit, kan gerus vir Corlene van der Merwe kontak by 084 715 1169.

HERFSGENOTE-Byeenkoms: Herfsgenote-lede gaan op 30 Oktober saam uiteet by Soverby in Dwarskersbos. Ons vertrek om 10:30 vanaf die kerk se parkeerterrein en behoort om 13:00 weer terug te wees. Vir meer inligting, kontak gerus vir Suselna by 083 232 4163. 

NAGMAAL EN TIENDEMAAND DANKOFFER

Ons Nagmaal en Tiendemaand Dankofferfees vind plaas op 9 November. Indien u nog nie ‘n Tiendemaand Dankofferkoevert ontvang het nie, kan u die kerkkantoor kontak, een by die kerkdeur neem of sommer van enige gewone koevert – gemerk 10e Maand dankoffer – gebruikmaak. 

GEBED

Kan ons vir jou bid? Stuur gerus ‘n gebedsversoek na 082 256 6669 en ons sal saam met jou die saak aan ons hemelse Vader opdra in gebed. Dit kan anoniem wees of as jy sou verkies, kan jy jou naam byvoeg. Ons onderneem dat alle inligting as streng vertroulik hanteer sal word. Indien jy wil aansluit by die groep as ‘n gelowige wat saam met ons bid, kan jy ook jou naam en nommer na hierdie nommer stuur. Voeg net die woord “mede-gelowige” by. Ons benodig ook jou gebed tot ons Vader.

MUSIEKBEDIENING

🎤 Kom wees deel van ons Musiekbediening 🎤
Het jy ‘n liefde vir sang of kan jy ‘n musiekinstrument bespeel? Ons musiekbediening is opsoek na nuwe stemme en talentvolle musikante wat graag saam wil dien deur musiek. Of jy ‘n ervare of net ‘n entoesiastiese deelnemer is – kontak vir André du Plessis by ☎ 083 680 0125 of 066 275 0344.

Ons benodig ook ‘n paar mansstemme vir ons Kerssangdiens hierdie jaar – Kom help ons om die boodskap van Christus se geboorte met vreugde te laat klink! As jy jou stem wil laat hoor tot eer van die Here, kontak vir André du Plessis by ☎ 083
680 0125 of 066 275 0344.

BEPLANNINGSGELEENTHEID VIR 2026 

Ons nooi alle leiers in die gemeente uit na ‘n belangrike beplanningsgeleentheid, waar ons saam sal dink, droom, bid en beplan. 
Datum: 1 November 2025 
Tyd: 09h00 tot 13h00 
Waar: Pastoriesaal 
Kom deel jou idees en insette en help ons om die pad vorentoe saam te bepaal. Jou teenwoordigheid en betrokkenheid is van groot waarde! Ons sien uit daarna om mekaar te bemoedig terwyl ons die Here se leiding soek vir 2026. 

GASVRYHEIDSBEDIENING

‘n Bring-en-Braai is só eg Suid-Afrikaans en ’n wonderlike manier om ’n seisoen mee af te sluit, met warmte en gemeenskap. Ons nooi die gemeente hartlik uit na ‘n Bring-en-Braai geleentheid, waar ons saam gaan kuier, lag en die Here gaan dank vir die pad wat ons saam gestap het – ‘n ware viering van Sy goedheid en die gemeenskap wat Hy onder ons gebou het. 🔥 Bring jou vleisie en jou stories, ons voorsien die kole en die geselskap! Laat ons hierdie seisoen afsluit met dankbaarheid, vreugde en ’n bord vol lekkerte. Kontak die kerkkantoor by 022-713-1724 of vir Junius Minnaar by 071-860-8029 as jy saam wil deel in hierdie spesiale geleentheid van feesviering!

🗓 Datum: 29 November 2025 om 14h00|
📍 Plek: NGK Vredenburg Kerkgronde

Koffie in die kerk – Meer as net Kafeïen …

Deur Wilmi Wheeler

Ons almal onthou ’n koppie koffie wat méér was as net koffie.

Dalk was dit die beker wat jou ouma vir jou geskink het saam met ’n tuisgebakte beskuitjie. Of die een tydens ’n moeilike gesprek, waar jy gesit het met ’n vriend wat nie geweet het wat om te sê met woorde nie, maar met die gebaar van koffiemaak wel. Of die beker wat jy in die kerksaal vasgehou het terwyl jy skaam aan jou eerste Bybelstudie-groep voorgestel is.

Elke koppie dra ’n storie. En in die kerk word daardie stories bymekaar geweef tot iets groter. ’n Herinnering dat ons nie alleen is nie, dat God selfs in die gewone gebare van gasvryheid en koffiekoppies teenwoordig is.

Koffie en gemeentes – ’n Godgegewe kombinasie?

Ek is seker as Paulus ’n brief geskryf het vir ons in 2025, sou hy êrens gesê het: “Groet mekaar met ’n handdruk… en bring asseblief die moerkoffie.” Want die waarheid is, koffie het iets van ’n sakramentale kwaliteit in ons Suid-Afrikaanse kerkkultuur gekry. Nie in ‘n streng teologiese sin nie, maar in die manier waarop dit ’n geleentheid skep vir genade en gemeenskap.

Na die diens, voor die Bybelstudie, tydens die kerkbasaar of sommer net in die kombuis van die kerksaal, koffie is die olie wat die ratte van gesprekke laat draai.

Die wetenskap agter die hart van ’n koppie koffie

Wêreldwyd drink mense sowat 2 miljard koppies koffie per dag. Dis ’n verbysterende getal. In Suid-Afrika alleen word meer as 500 miljoen kilogram koffie per jaar ingevoer en verbruik. En studies wys hoekom: koffie verhoog jou dopamienvlakke (daardie “lekker-wees” chemikalië in jou brein) en help jou konsentreer. (Dis seker hoekom daar so baie bekers koffie tydens ’n moderamenvergadering verorber word!)

Maar dit gaan nie net oor kafeïen nie. Dit gaan oor die ritueel. Navorsing wys mense ervaar groter sosiale verbondenheid wanneer hulle warm drankies vashou. Letterlik: ’n warm beker in jou hand maak jou meer oop vir ander. Dis amper asof jou hart, soos jou hande, effens warmer word.

Selfs Sheldon Cooper van The Big Bang Theory het geweet: as iemand ontsteld is, bied jy vir hulle ’n warm drankie aan. Dis omdat daar iets diep-mensliks is aan die warmte wat ’n beker oordra

Hoe mooi is dit dat die kerk al eeue lank bekend is as ’n plek waar harte warmer word?

’n Kort koffie-geskiedenis in die kerk en ‘n heilige uitnodiging

Koffie en godsdiens se paaie het lankal gekruis. Daar is selfs ’n legende dat toe koffie in die 16de eeu in Europa bekendgestel is, party Katolieke dit as “die duiwel se drank” beskou het. Totdat Pous Clemens VIII dit self geproe het en gesê het: “Hierdie drankie is so heerlik dat dit ’n skande sou wees om dit net vir ongelowiges te los.” En so is koffie by die Christelike wêreld se tafels ingebring.

Internasionale Koffiedag (ja, dit bestaan regtig – 1 Oktober) herinner ons dat die eenvoudigste gebare die grootste impak kan hê. ’n Koppie koffie is nie net ’n drankie nie; dis ’n uitnodiging:

Kom sit, Kom deel, Kom wees

Dis ook wat NG Gemeente Parow-Panorama onlangs só mooi gesê het op hul Facebook-blad saam met hierdie foto van lidmate wat koffie drink:

“Koffie bring mense bymekaar – of dit nou rondom die kombuistafel is, saam met vriende, of voor ons Sondagdiens hier by die gemeente. Dis ’n herinnering dat die kleinste gebaar, soos ’n koppie koffie, groot warmte en gemeenskap kan bring. Net soos koffie tyd en warmte nodig het om sy volle geur te ontwikkel, so groei ons geloof en verhoudings wanneer ons dit koester met geduld en liefde. Kom geniet saam met ons die gemeenskap, die gesprekke en die ‘geur’ van saamwees.”

En dalk is dit juis die punt. Net soos koffie deur water getrek word om sy volle geur te kry, word ons geloof en gemeenskap deur tyd, geduld en warmte gevorm. Ons het mekaar nodig om daardie geur na vore te bring.

So, die volgende keer as jy ná ’n diens by die kerksaal instap en iemand vra: “Swart of met melk?”, onthou, jy staan nie net in ’n ry vir kafeïen nie. Jy staan in ’n ry vir saamwees, vir die heilige geur van gemeenskap.

En miskien, net miskien, is die kerk se koffietafel een van die beste plekke om iets van die hemel op aarde te proe…

VERJAARSDAE EN LIEF EN LEED

Baie geluk en seënwense aan almal wat in die volgende week verjaar

26 Oktober: Stiaan Pool, Almé Jonker, Altus Potgieter 
27 Oktober: Coena du Bois, Frans Korkie, Marilize Human, Viens Thomson, Ben le Roux, Keanu Moolman, Adriaan Atkinson 
29 Oktober: Estelle Bester, Louandi van Wyk, Johanna Gouws, Eduan Dames, Christelle Kloppers 
30 Oktober: Sakkie Vollgraaff, Hermien Rother, Dirk Visagie 
31 Oktober: Pieter Loubser(sr), Lourens Pretorius, Beaula Olivier, Nita Benjamin, Lea Matthee 
1 November: Frans Badenhorst (jr), Wilene Smit, Lu-Maré Carosini 

* Ons vra asb voorbidding vir lidmate en hulle gesinne / families wat worstel met siekte en ander buitengewone uitdagings

* Ons loof en prys die Here vir getuienisse van verhoorde gebede.

* Ons dink met leedwese aan diegene wat in die afgelope tyd ‘n geliefde aan die dood afgestaan het