40 Dae Reeks

Moeilikhede kan oorwin word

40 Dae se saamdink oor Jeremia se lewe om staande te bly in ons wêreld.

God se Familie – Saam is Ons Beter

Welkom by ons gemeente se spesiale 40 dae reis!
Gedurende hierdie tyd kyk ons saam na wat God van sy familie verwag – hoe ons mekaar kan dien, liefhê en ondersteun, en hoe ons die wêreld rondom ons kan bereik met Sy liefde.

In die digitale handleiding wat volg, vind jy:

  • Daaglikse Skrifgedeeltes en nadenke om persoonlik te gebruik.

  • Gesinsgesprekke wat jou help om saam met jou gesin oor God se Woord te gesels.

  • Gesprekke vir huwelikspare om julle verhouding te versterk.

  • Omgeegroep-riglyne wat kleingroepe help om saam te leer, bid en uit te reik.

Elke week het ’n tema wat ons lei:

  • Week 1: God het geen weeskinders nie

  • Week 2: Ek groei as jy groei

  • Week 3: Liefde begin by die huis

  • Week 4: God werk deur sy familie

  • Week 5: God praat met sy familie

  • Week 6: ’n Lewe van vrygewigheid

Hier op die webwerf kan jy die dagstukkies aanlyn volg, en jy is ook welkom om die boekie op jou foon af te laai vir maklike gebruik.

Ons nooi jou uit om hierdie reis saam met ons te stap – om God se stem te hoor, jou geloof te verdiep, en as familie nader aan mekaar én aan Hom te groei.

Handleiding

God het geen weeskinders nie!

Hierdie beginsel laat ons dink aan klein babatjies wat in ‘n gesin gebore word.  Daardie baba is eg en sonder twyfel deel van die betrokke gesin.  Die gesin aanvaar die nuwe baba met oop arms.  Hulle leer die baba ken en leer ook om lief te raak vir hierdie baba.  So ’n baba behoort en is onlosmaaklik deel van daardie gesin.  So ‘n baba is nie ‘n weeskind nie, maar ingebore in daardie familie.  

Dagstukkies:

Lees Efe. 4:4:  God het nie weeskinders nie – net familie.  Hy voorsien vir elke kind van Hom deur die onbeperkte middele van die hemel.  Maak nie saak watter foute ons gemaak het nie, God gee om vir die wat in ‘n liefdesverhouding met Hom staan.  Een van hierdie middele of geskenke is die kerk.  Ons wêreld is verder ook vol gekweste mense wat geen hoop het nie, maar God het vir al hulle behoeftes voorsiening gemaak in Jesus Christus.  Hy het ook vir Jesus die hoof van die kerk gemaak wat Hy gestig het sodat Hy genesing kan bring deur sy mense wat sy genade leer ken het.  Die een groot geskenk wat God aan hierdie wêreld gegee het, naas al die baie ander, is die kerk.  Dis God se manier om sy kinders te versorg en dis ook sy plan om hulle wat stukkend is, hierdie geskenk van ‘n gemeente te gee, sodat hulle kan heelword.  Ons gaan in hierdie volgende 40 dae kyk na watter groot geskenk God regtig aan ons en die wêreld  gegee het deur sy kerk.

Dink na:  Wat beteken jou gemeente tans vir jou? Hoekom sê jy so?

Aksie:  Maak met jouself ‘n verbintenis om hierdie 40 dae te gebruik om baie meer uit jou gemeente te beleef.

Vra: Vra die Here om jou te seën in die 40 dae deur kennis en ook ervaring van wat ‘n gemeente vir mens kan beteken.

Lees Joh. 1;12-13:  Volgens God se plan word die wat deur Jesus Christus ‘n verhouding met God het, outomaties in God se familie gebore.  God het geen weeskinders nie.  Jy is eg en wettig weergebore as God se kind en daarom ook het jy ‘n plek in God se familie.  Net soos God beplan dat ‘n baba in ‘n familie gebore word om liefde en sorg te ontvang, het Hy beplan dat hullewat weergebore word, ‘n geestelike familie het wat mekaar sal liefhê en vir mekaar sal sorg.  Wanneer mense voor die uitdaging te staan kom om by God se familie betrokke te raak en met ‘n besondere kerk in te skakel, weier party gesinslede en bly op ‘n afstand. Sommigeshulgeloofslewe is privaat.  Ongelukkig is dit nie wat die Bybel ons leer nie en as ons so dink is ons nie in lyn met wat God vir ons wil hê nie.  Ons verhouding met God is persoonlik maar nooit privaat nie.  Alles in die Bybel getuig daarvan dat God se kinders deel van ‘n familie is en nie sonder God se familie effektief Christen kan wees nie.  Iemand wat eenkant staan van God se familie is ‘n disfunksionele Christen en nie in die wil van God nie.

Dink na: Hoe naby staan jy aan God se familie?

Aksie: Wat gaan jy doen om nader aan God se familie te beweeg?

Vra: Dat God jou sal help om nader aan sy familie te beweeg nie net terwille van jouself nie, maar ook terwille van die ander.

Lees Efe. 2:19: Net soos ‘n kind wat in ‘n gesin gebore word, outomaties dinge gaan beleef wat net in ‘n gesin beleef kan word, is dit ook waar van God se gesin.  Daar is sekere dinge wat jy met God alleen sal kan beleef, as jy ingeskakel is by God se familie.  Enige persoon wat nie as deel van ‘n gesin grootgeword het nie, het sekere dinge in die lewe gemis en nie ervaar nie. Net so ook met elke Christen as ons nie deel is van God se familie nie.  Inskakeling by ‘n plaaslike kerk is deurslaggewend en noodsaaklik vir ‘n Christen om die volle omvang van Christen-wees te ervaar en te beleef.  Dalk voel jy in ons gemeente ervaar jy nie altyd dit wat God bedoel het in ‘n gemeente ervaar moet word nie.  Dit neem egter nie die beginsel weg dat God aan ons sekere dinge wil skenk en laat ervaar, wat ons alleen as deel van sy familie kan beleef nie.  Ons moet juis daarom hard daarvoor bid en werk om dit te wees wat God van ‘n gemeente verwag.  Daar is dinge wat God in, vir en deur sy familie doen wat Hy nêrens anders doen nie. As jy nie aktief deel in die familie nie – gaan jy dit mis!

Dink na: Watter dinge is daar wat jy net in ‘n gemeente sal kan beleef en nêrens anders nie?

Aksie: besluit om hierdie dinge wat jy net in God se familie kan beleef, te gaan soek en na tejaag.

Vra: Dat God ons gemeente sal maak soos God wil hê ‘n gemeente regtig moet lyk en funksioneer.

Lees Rom 12:5, Gen. 2:18 en 1 Joh. 1:3:  Die gemeente is God se antwoord op eensaamheid.  Ons leef in ‘n wêreld waar ons al minder sinvolle kontak met ander mense het.  Ons praat met mekaar oor SMS’s of epos, bly agter hoë mure en is na werk en naweke te moeg om te gaan kuier.  Sonder dat ons dit agterkom is ons besig om al meer eensaam te raak.  Die probleem is ons kom dit nie eens agter nie en is al so gewoond daaraan.  Ons breine is elke dag so besig om baie inligting te verwerk dat ons juis die eensaamheid verwelkom.  Ons mis egter in die proses iets van menswees wat God in ons geplaas het, naamlik om sinvolle verhoudings te hê.  Baie van ons verhoudings is oppervlakkig en net so bolangs.  God het ons geskep om alleen werklik mens te wees, wanneer ons in sinvolle verhoudings staan.  As christene is daar egter ook aan ons verhoudings ‘n kant wat ons nie op ‘n ander plek as die kerk sal vind nie, naamlik my geestelike of spirituele deel van my lewe.  God het ons so gemaak dat ons alleen regtig sinvol sal lewe en die lewe as sinvol sal ervaar as ons op geestelike vlak ook met ander in ‘n verhouding sal staan. Wanneer ek dus my geloof in God met ander deel.  As ek dit nie doen nie, sal ek tenminste in hierdie aspek van my lewe ‘n eensame mens word.  Ek kom dit nie dadelik agter nie, maar later in my lewe kom ek agter iets kort in my.  Dikwels is geestelike eensaamheid moeilik om raak te sien en te identifiseer.  Dikwels verstaan ons nie hoe nodig ons dit het nie.  

Dink na:  Tot watter mate is jy geestelik eensaam?

Aksie: Hoe gaan jy seker maak dat jy nie geestelik eensaam word nie.

Vra: Dat God jou christene in jou geestelike familie sal gee, wat jy jou geestelike lewe mee kan deel.  

Lees 1 Joh. 2:9-11 en Joh. 13: 35:  Die gemeente is God se antwoord vir my versorging.  Die kerk moet die plek wees waar God se kinders versorg en na gekyk word.  Dit moet die plek wees waar ek ervaar dat mense my dra, my vreugdes deel, my hartseer deel, my pyn help dra, my geloof met my deel.  In die eerste gemeentes het christene juis hierdie vreugde van saamwees beleef.  Kyk gerus na Handelinge 2:41-47.  Ons kan dalk maklik sê maar ek is anders of ek kom nie met die kerkmense klaar nie.  Wel, toe my kinders in ons gesin gebore is, het hulle outomaties ‘n sussie en ander boeties gehad.  Hulle kon nie juis kies of hulle hierdie boeties en sussie wou gehad het nie.  Hulle was deel van die gesin en hulle moes leer om mekaar lief te hê en mekaar te verdra.  Hierin het hulle juis gegroei, en volwassenheid daardeur geleer. As ons kinders vir ons liefhet, sal hulle ook outomaties die ander lede van die gesin liefhê.  Die gemeente is daar om deur ander Christene liefde te ontvang, maar ook om my liefde en sorg aan ander te gee.  Ons kan daarop aanspraak maak dat ons God liefhet tot ons blou is in die gesig, maar as ons nie intiem met God se mense in verbinding is nie, flous ons onsself.

Dink na: Tot watter mate is jy besig met  die versorging en opbou van jou mede gelowiges?

Aksie: Hoe gaan jy jou medegelowiges help versorg en opbou?

Vra: Dat God jou sal wys waar en hoe ander gelowiges jou nodig het.

Lees 1 Kor. 12:18:  Die kerk was nooit iets wat deur mense uitgedink is nie, maar iets wat God daargestel het.  Hy het die kerk daargestel sodat ons mekaar kan versorg en geestelik opbou, saam die Here aanbid, saam na die wêreld uitreik , tussen ons dinge van God beleef wat ons net tussen mekaar kan beleef.  Om deel van ‘n gemeente te wees, is ook nie ‘n reg nie, maar ‘n voorreg, aangesien God self mense roep en plaas in ‘n gemeente.  Jy is dus nie net toevallig in hierdie gemeente nie, God het jou hier geplaas as ‘n sekere deel van sy liggaam.  Daarom is jy deel van die gemeente.  Daar bestaan nie iets soos ons en hulle in ‘n gemeente nie – daar bestaan net ons.  Ek is deel van die familie van God, ek is hier geplaas omdat God dit so wou.  Daarom moet ek leer om lief te raak vir die familie wat Hy my gegee het.  Ek moet leer om intiem deel te wees van hierdie familie.  Miskien mis ons so baie seën van die Here omdat ons so vêr staan van sy familie. Die wat verkies om op ‘n afstand te bly, sit met ‘n ernstige hartprobleem.  ‘n Christen kan nie lidmaat wees en half eenkant van die kerk staan, dit bespot, daarvoor lag of dit skynheilig noem nie.  Dit druis teen elke grein van ons geloof in.  Christene het die kerk lief en sal hulle lewe daarvoor gee.  1 Joh. 2:19 sê dat die wat die kerk verlaat en nooit terugkeer nie, in die eerste plek nie regtig gered was nie.  Niemand wat die Gees van God besit, kan God se mense die rug toekeer nie.  Om God lief te hê, is om sy kinders lief te hê.  God het nie weeskinders nie – net familie.

Dink na: Besef jy dat volgens 1 Kor. 12:18 God jou hier geplaas het in die gemeente omdat Hy wou?  Jy is nie toevallig hier nie!

Aksie: Wat gaan jy doen met die wete dat jy baie spesifiek hier deur God geplaas is?

Vra: Dat God jou sal wys waarom jy spesifiek in hierdie gemeente geplaas is?

Gaan kyk weer na elke dag van die week.  Wat het God in hierdie week baie spesifiek met jou oor gepraat?  Wat gaan jy doen daarmee?

  • God het nie weeskinders nie, net familie.
  • Jy word in God se gesin weergebore en is outomaties deel van sy gesin.
  • Daar is dinge van God wat jy net in sy gesin sal kan beleef.
  • God se gesin is die antwoord vir eensaamheid
  • God se gesin is die antwoord vir jou versorging.
  • Die kerk is nie ons idee  nie, maar God sn.  Jy is daarom geplaas in ‘n gemeente waar God jou wou plaas.

GESINSGESPREK

Omgee gesels:

Waarom is dit vir jou kosbaar om deel van ʼn gesin te wees?  Wat sou jy gemis het, as jy nie deel van ʼn gesin was nie?
 
Woord gesels:
  • Lees Efe. 2:19-20
  • In watter opsig is ʼn gemeente soos ʼn familie of huisgesin?
  • Voel julle dat ons gemeente soos ʼn familie is?  Hoekom sê jy so?
  • Wat dink julle word bedoel met die kerk is soos ʼn gebou in hierdie vers?

Gebruike, gewoontes en saamleer.

  • Watter gebruike in die gemeente is vir jou kosbaar?  Hoekom is dit vir jou kosbaar?

Ons leef na buite:

  • Wat kan julle as gesin doen sodat die kerk vir julle meer soos ʼn familie sal voel?
  • Wat kan julle as gesin doen om die gebruike in die kerk vir julle meer kosbaar te maak?

HUWELIKSGESPREK

Kry ʼn tyd wanneer en waar julle alleen en rustig kan gesels.  Maak lekker koffie en kry sommer ook ʼn eetdingetjie vir julle.  Gesels oor die volgende:  
  • Wat sou julle alles gemis het as julle nie getroud was nie?
  • Hoe sou julle lewe dan gewees het?  
  • Wat is daarom vir julle kosbaar in en van julle huwelik?

OMGEEGROEP

Mens tot mens:

  • As julle mekaar nie goed ken nie en ‘n nuwe omgeegroep is, deel met mekaar iets oor julleself.
  • As julle mekaar reeds goed ken, vertel vir mekaar hoe dit met julle gaan.  Hoe was julle vakansie ens.

Mens tot God:

  • Vertel vir mekaar wat is een uitstaande ding wat jy die afgelope tyd van God waardeer of ervaar het.
  • Gee geleentheid vir gebed waarin julle vir die Here vertel wat julle van Hom waardeer.

God tot Mens:

  • Lees Efe. 2:19-22
  • Deel met mekaar wat beteken jou gemeente vir jou op die oomblik.
  • Waarom dink julle besluit sommige lidmate om by ‘n gemeente in te skakel en dan op ‘n afstand te bly eerder as om betrokke te raak en in te skakel?
  • Op grond van in Efe 2:19-22 en ook Heb. 10:25, dink julle dit is sonde as iemand nie by ‘n gemeente inskakel nie, of op ‘n afstand bly wanneer hulle wel deel is van ‘n gemeente?
  • Hoe dink julle sal ‘n ideale gemeente lyk?
  • Wat moet in ons gemeente verander om daarby uit te kom?
  • Tot watter mate is jy ingeskakel of deel van jou gemeente?
  • Wanneer dink julle kan iemand beskryf word as ‘n lidmaat wat ingeskakel is by ‘n gemeente?
  • Lees 1 Kor. 12:18-20.  Ons hoor baie keer dat lidmate by ‘n gemeente inskakel, daar is vir ‘n ruk en dan weer weg beweeg na ‘n ander gemeente omdat daar dinge sou wees wat hulle pla of omdat hulle nie tuis voel nie. Wat leer vers 18 ons van rondskuif na gemeentes soos dit ons pas?
  • Wat kan ‘n gemeente ‘n mens bied wat jy in jou verhouding met God op geen ander plek vind nie?

Mens tot medemens:

  • Wat gaan julle omgeegroep of jy as individuele lidmaat prakties begin doen om van ons gemeente die ideaal te maak soos julle dit hierbo beskryf het?
  • Bid saam vir ons gemeente en dat lidmate wat nog onbetrokke is, sal inskakel by die gemeente.
  • Volgende week gaan julle as groep na iemand uitreik in die plek van julle byeenkoms. (Sien week 2 se kleingroep).  Besluit saam waar en hoe gaan julle dit doen.

Ek groei as jy groei.

Gelowiges het nodig om te groei.  Die dag as ek dink ek weet baie en die ander niks, is ek eintlik maar net soos ‘n adolessent wat nog baaaaaie groei nodig het.  Ons hou egter nooit op om te groei en te leer nie.  Ons doen dit ons hele lewe lank.

Dagstukkies:

Lees Heb. 5:11-6:3:  Ek groei wanneer ek ander mense laat groei.  Dit is God se beginsel vir geestelike groei.  Natuurlik kan ek op my eie sit en ‘n diep ervaring met God hê. Natuurlik kan ek groei deur meer die Woord te lees en daaroor na te dink.  Natuurlik groei ek hoe nader en intiemer ek met God wandel.  God se groei vir my vind egter sy diepte wanneer ek ander laat groei.  Wanneer ek dit wat ek geleer en in God se teenwoordigheid ervaar het, na ander mense neem.  Wanneer ek begin om dit wat in my hart gebeur het, in my optrede en betrokke wees by ander, uit te leef.  Volgens Heb. 5 raak ek eers regtig volwasse in my geloofslewe, wanneer ek begin om by ander betrokke te raak en ander persone met my gawes te dien.  My gemeente is daarom juis die plek waar ek kan leer en oefen om te groei.  Dit is ‘n veilige plek waar ek my eie geloofslewe kan laat ontwikkel.  Daar is geen ander plek waar ek as mens, en in my verhouding met God kan groei, soos in my gemeente nie.  Daarvoor moet ek egter betrokke raak by medegelowiges en besig wees met ‘n bediening.

Nadink: Is jy iewers besig om in mense se lewens in te bou?  Besig om dit wat God in jou hart gedoen het, aan ander oor te dra?

Vra: vir God om jou wys waar en hoe jy in ons gemeente betrokke kan raak om te verseker dat jy verder geestelik sal groei.

Aksie: Besluit wat gaan jy doen om nie net vir jouself te leef nie, maar om ander persone ook te help om te groei.

Lees Matt. 14:22-32:  Dit is ‘n algemene reël in die lewe dat ‘n mens nie groei solank daar nie verandering plaasvind in my lewe en dit my dwing om my lewe daarby aan te pas nie.  Groei sal nooit regtig plaasvind as ek maar net altyd in my eie gemaksone bly leef nie.  Reg deur ons lewe vind veranderinge plaas, nuwe dinge gebeur.  Ek begin by ‘n nuwe werk, nuwe vriende, miskien ‘n byvoeging tot ons gesin of dalk ‘n nuwe skool.  Elke keer moet ek aanpas, moet ek nuwe dinge leer en op die manier groei ek.  Sodra ek vir jare geen veranderinge in my lewe ervaar nie, raak ek gewoond aan alles  en bly ek stagneer.  Groei gaan altyd saam met nuwe aanpassings.  So is dit ook in my geestelike lewe.  Ons kom dikwels in ‘n groef, doen dieselfde dinge, voel veilig en nie blootgestel nie, aanbid die Here vir jare op dieselfde manier,   sit vir jare op dieselfde plek in die kerk en so stagneer ek as christen.  Petrus se grootste groei ervaring was toe hy op die water saam met Jesus geloop het.  Toe hy Jesus se groot mag en teenwoordigheid in sy lewe beleef het.  Dalk is dit vir jou tyd om so bietjie uit jou boot te klim en op die water te loop om regtig weer iets van Jesus se mag en teenwoordigheid te beleef.  Ek dink God daag jou uit om dit te doen.

Nadink: Het jy in jou geestelike lewe gestagneer en ‘n plato bereik?

Vra: vir God om vir jou te wys waar en hoe jy so bietjie uit jou boot moet klim, dalk by iets betrokke raak, dalk by ‘n omgeegroep aansluit, om uit hierdie groef te kom.

Aksie: As die Here iets op jou hart gelê het, maak dadelik ‘n plan om dit uit te voer.

Lees Matteus 25:14-30 en 1 Kor. 12:7:  Elkeen van ons het ‘n besondere gawe van die Here ontvang.  Iets baie spesiaals van God wat ek beter as ander mense kan doen.  Iets wat Hy aan my gegee het om ander gelowiges en sy Koninkryk mee op te bou.  In die gelykenis van die muntstukke ontvang hy wat sy muntstukke gebruik nog meer.  Hy groei dus en ontwikkel in sy geestelike lewe hoe meer hy sy gawes gebruik en ander opbou.  Daar gebeur egter nog iets met hom.  Hoe meer hy gebruik wat hy het, hoe meer kry hy nog by.  Hoe meer ek die gawes wat God aan my gegee het gebruik, hoe meer gaan God my vertrou en nog meer byvoeg.  Dit is soos ‘n spiraal wat boontoe beweeg.  Hoe meer ek wil groei en dinge doen om te groei, hoe meer gaan ek groei en hoe meer wil ek nog groei.  Die teendeel is egter ook waar.  Elkeen het iets ontvang om vir die Here in sy Koninkryk te werk.  As ek dit wat ek ontvang het – hoe gering ook al – nie gebruik nie, verloor ek later ook die min wat ek gekry het.  Hoe meer ek ander mense laat groei deur my gawes en my bediening, hoe meer groei ek self.  God het hierdie wederkerige beginsel in sy Koninkryk ingebou.  Hoe meer ek aan ander doen, hoe meer doen ek aan myself.

Nadink: Is jy besig om jou gawes effektief te gebruik of verwaarloos jy dit?

Vra: vir God om jou te wys waar en hoe Hy jou met jou gawes wil gebruik in ons gemeente.

Aksie:  Gaan praat met een van die leraars oor waar jy jou gawes kan uitleef.  

Lees Jakobus 2:14-26: Deur die eeue heen het die gedagte gegroei dat my geloofslewe bestaan uit wat ek met my logiese denke van God inneem.  Ons voel dikwels dat sodra ek by ‘n Wyksbyeenkoms of omgeegroep inskakel, ek ‘n baie effektiewe Christen is en dat ek nou geestelik gaan groei.  Ons het selfs die gedagte ontwikkel dat as ek getrou is in my stiltetyd en gebed, ek ‘n baie diep en gevorderde Christen is.  So asof christenskap alleen bestaan uit inligting en kennis wat ek vergader.  Jakobus gebruik ‘n baie sterk woord deur te sê, so ‘n Christenskap wat alleen gaan oor die insamel van kennis, is dood.  Ek kan dus as gelowige betrokke wees in ‘n omgeegroep of gereeld my stiltetyd hou en steeds ‘n dooie geloof besit.  ‘n Lewende geloof neem dit wat geleer en gehoor is en sit dit om in die praktyk.  ‘n Lewende geloof doen iets, dit maak ‘n verskil, dit tree anders op.  Ek kan dus nie my geloofslewe en my betrokkenheid in God se Koninkryk evalueer aan die hand van die hoeveelheid keer dat ek die kerk bywoon, of iewers sy Woord bestudeer nie.  Die ware evaluering van my geloof, is gebaseer op wat ek met my kennis doen, waar ek ‘n verskil maak, waar ek betrokke is, hoe ek optree.  Dikwels doen ons al die regte dinge deur kerk by te woon, saam te bid en God se Woord te bestudeer en voel ons dikwels steeds onvervuld, so asof iets kort, so asof daar meer in my geloofslewe moet wees.  Dikwels is daardie gevoel daar omdat ek nie my kennis in die praktyk omsit nie.

Nadink: Het jy lewende of dooie geloof?

Vra: vir God om baie diep met jou in jou hart te praat oor jou tipe geloof.

Aksie: Wat gaan jy doen om jou geloof ‘n lewende geloof te maak?

Lees Kol. 1:27-29: Sommige gelowiges is partykeer weer net besig om te doen, sonder om gevoed te word deur tyd met God deur te bring of kennis by te kry deur by ‘n Wyksbyeenkoms of omgeegroep in te skakel.  Net so belangrik as wat dit is om te doen, net so belangrik is dit om toegerus en geleer te word.  Ons spandeer dikwels baie geld en tyd om ons liggaam gesond te hou of om met ons gesin vakansie te gaan hou, maar belê min tyd en geld in my geestelike lewe.  Dit is geweldig belangrik dat ons as gelowiges in onsself en ons geestelike lewe moet belê.  Soms voel mens ‘n kamp of kursus neem baie tyd of kos baie geld.  Die resultate van sulke toerusting in my lewe en in my verhouding met God,  maak dit deur en deur die moeite werd.   Ons leer baie dinge in ‘n erediens, maar ons kan nooit dieselfde deeglike hantering van sekere aspekte van my geestelike lewe, in ‘n erediens doen nie.  Daarvoor is addisionele groeigeleenthede baie belangrik.  ‘n Omgeegroep of Wyksbyeenkoms is ook ‘n plek waar ons met mekaar ons gedagtes kan wissel, ander se menings kan hoor en my eie verstaan van die Woord teenoor die van ander kan vergelyk.  Dit is ontsettend belangrik dat gelowiges die Bybel moet ken en kan gebruik.  Daarom is gereelde stiltetyd en persoonlike Bybelstudie so belangrik.  Ons moet verby die gedagte beweeg dat ek net elke dag ‘n boodskappie van die Here wil kry.  Deel van stiltetyd is ook om die Bybel te leer ken, die geskiedenis daarvan, gebeurtenisse , plekke en die dieper betekenis van gedeeltes.  Kry vir jou genoeg hulpmiddels om jou hierin te help.  Gesels met jou leraar oor geskikte hulpmiddels en metodes.

Nadink: Waarin sou jy graag meer geskool wil word of waarvan sou jy graag meer wou leer.

Vra: vir God om vir jou ‘n honger na sy Woord te gee, om jou te laat verstaan hoe belangrik dit is om toegerus en geleer te word.

Aksie: Gaan gesels met jou leraar oor behoeftes wat jy het om meer toegerus en geleer te word, asook oor moontlike hulpmiddels en boeke wat jou kan help om die Bybel beter te verstaan.

Lees Gal. 5:16-26:  Geen Christen sal ooit groei as ons nie nougeset die Heilige Gees gehoorsaam nie.  Om onder beheer van die Gees te leef of om deur die Gees vervul te wees, beteken doodgewoon dat ek in alles baie mooi sal luister wat die Here vir my deur sy Woord sê en dit dan getrou sal gaan uitvoer en doen.  Wanneer ek gehoorsaam is aan die Here en sonde weerstaan en prakties doen wat Hy my leer en beveel, is dit soos paraffien wat op ‘n vuur gegooi word.  My vlam vir die Here brand net helderder en duideliker.  Ek is sommer net baie liewer vir die Here en lus om baie meer vir Hom te doen.  As ek egter nie na die Here luister nie en my nie aan Hom steur nie, is dit soos water wat op ‘n vuur gegooi word.  My vlam brand net al kleiner, ek raak minder lief vir die Here en is ook net nie meer lus om iets vir die Here te doen nie.  Die Bybel sê ons maak die Gees van God hartseer, ons bedroef Hom en weerstaan sy werk in ons lewe.  Ons swaai hierdie bose kringloop om deur doelbewus te gaan doen wat ons weet die Here van ons vra.  Ons swaai dit om deur Sondag baie mooi na die boodskap te luister, seker maak ek verstaan wat die Here in my stiltetyd of Bybelstudie en omgeegroep van my vra en dan daadwerklik iets daaraan te gaan doen.  Ek swaai dit ook om as ek doelbewus sonde weerstaan en nee sê daarvoor.  Hoe meer ek die Here gehoorsaam, hoe meer beleef en ervaar ek vir God in my lewe en hoe meer groei ek geestelik.  Die wonderlike van ‘n gemeente is dat daar mense is wat my kan help om dit te oorwin waarmee ek sukkel.  Gaan gesels met jou leraar daaroor.

Nadink: Wat is daar in jou lewe wat jy weet jy moet doen, maar nog nie gehoorsaam aanwas nie?

Vra: vir God om jou te wys indien daar iets tussen jou en Hom staan.

Aksie: Doen dadelik iets aan dit wat tussen jou en die Here staan. Soek hulp!

Neem tyd en kyk weer deeglik na die week se stukkies.  

  • Watter van dit waaroor gepraat is, is dalk die rede waarom jy sukkel om geestelik te groei?  
  • Wat gaan jy daaraan doen?

GESINSGESPREK

Omgee gesels:

  • Die grootste uitdaging van my ouderdom is ….
  • Die grootste vreugde van my ouderdom is ….

Woord gesels:

  • Lees Heb. 5:11-6:3
  • Vertel mekaar wat hoor julle in hierdie gedeelte.
  • Ons groei die beste en vinnigste wanneer ons ander mense dien.  Gesels met mekaar waar in die kerk sal jy graag wil help?  Wat sal vir jou lekker wees om te doen in die kerk?

Gebruike, gewoontes en saamleer.

  • ʼn Gebruik of gewoonte in die kerk wat vir my vervelig en sonder betekenis is …
  • Gesels oor wat die gebruik beteken en hoekom julle dink ons dit doen.  Hoe kan dit vir jou betekenisvol word?

Ons leef na buite:

Dink baie prakties:

  • Waar en hoe kan julle as gesin in die kerk dien en iets doen?  
  • Met wie gaan julle hieroor gesels?  
  • As julle nie as gesin betrokke wil wees nie, waar gaan julle as individue in die kerk betrokke wees?
  • Wat gaan julle doen om dit ʼn werklikheid te maak?

HUWELIKSGESPREK

  • Watter gawes of besondere geestelike eienskappe het julle elkeen?  
  • Hoe kan julle hierdie gawes gebruik om mekaar geestelik in julle huwelik te bedien?

OMGEEGROEP

Hierdie week gaan die omgeegroep iemand wat ‘n besoek nodig het in die gemeente besoek.  Kontak die kerkkantoor vir ‘n naam.

Liefde begin by die huis.

Die wonderlikste oomblik vir ouers is wanneer hulle kind hulle terug begin liefhê.  Dit gebeur gewoonlik in die kleuter fase van ‘n kind.  Kleuters gee hulle liefde so spontaan, gemaklik en sonder om iets terug te verwag.  In God se familie moet kleuters dalk weer vir ons leer hoe om mekaar lief te hê.

Dagstukkies:

Lees 1 Joh. 3:16 en Joh. 17:20-23: Mense oor die wêreld erken dat daar ‘n God is, maar min van hulle het al ‘n liefdesverhouding met Hom ervaar.  As ons verhouding met God gegrond was op ons vermoë om Hom te ken, sou niemand ooit iets van God ervaar en geken het nie.  God maak Homself bekend aan die wêreld en dit is hoe mense alleen Hom kan ervaar en ken.  Die belangrikste manier hoe God vir die wêreld gewys het dat Hy bestaan en wie Hy is, is natuurlik deur Jesus  en sy skepping.  God het egter ook ‘n derde manier gekies om Homself bekend te maak en aan die wêreld te bewys dat Hy leef en bestaan, naamlik:  Wanneer gelowiges mekaar liefhet.  Natuurlik vloei hierdie liefde oor na die wêreld om ons sodat ons hulle wat buite God se familie is, ook liefhet. Maar hierdie liefde, hierdie bewys dat God bestaan, begin by die huis van God, sy familie onderling.  Die wêreld sal weet dat God bestaan en dat Jesus waarlik God is, as die christene mekaar innig liefhet.  Liefde begin by die huis, natuurlik ook elkeen se eie huis en gesin, maar veral ook by God se gesin, die kerk.

Nadink: Besef jy dat die mate waartoe lidmate vir mekaar sorg en liefhet, tot daardie mate sien die wêreld dat God leef en bestaan?

Aksie: Besluit dat as dit waar is en onderlinge liefde so belangrik vir God is, dat jy jou verbind om mede lidmate regtig lief te hê.

Vra: vir God om jou regtig ‘n liefde in jou hart vir medegelowiges te gee.

Lees 1 Joh. 4:12,2-21:  Deur my liefde vir my medegelowiges, sien die wêreld nie net dat God bestaan en leef nie, maar weet hulle ook dat God in my leef.  Ek kan nie sê dat ek God liefhet as ek nie my medegelowiges in die gemeente liefhet nie.  Let op dat Johannes hier baie spesifiek praat van medegelowiges.  Daar bestaan nie iets soos iemand wat ware gemeenskap met God het, maar nie ware gemeenskap met ander gelowiges het nie.  Johannes sê ons bedrieg en mislei onsself as ons dink ek het hierdie diep verhouding met God, maar ek is afsydig en onbetrokke by my medegelowiges.  Miskien kan ons sê ek hou nie van almal in die gemeente nie, ek kom nie klaar met almal nie, ek vind ander lidmate skynheilig of ons vind nie mekaar nie.  In ‘n gesin kan jy nie kies wie saam met jou in die gesin in gebore word nie.  In ‘n gesin kom almal nie altyd goed klaar met mekaar nie.  Dit beteken nie ek kan sommer my gesin verlaat en by ‘n ander gesin intrek nie.  Ek leer om my gesinslede lief te hê. Ek leer om met hulle saam te werk.  Net so leer ek om my medegelowige lief te hê en saam te werk, omdat ons familie is. Omdat God sê dan sal almal weet dat Hy leef en bestaan en dan sal almal weet dat jy ook vir God liefhet. Liefde is ‘n keuse, ‘n besluit, nie ‘n gevoel nie.

Nadink: Het jy regtig al jou medegelowiges in jou gemeente lief? Indien nie, waarom nie?

Aksie: Liefde is ‘n keuse, ‘n besluit, kies vandag om werk daarvan te maak om alle medegelowiges lief te hê.

Vra: vir God om jou te wys wat is die probleem in jou hart waarom jy nie ander gelowiges liefhet nie.

Lees Fil. 2:3 en Rom. 12:16:  Dikwels is die rede waarom ons sukkel om ons medegelowiges lief te hê, omdat ons self hoogmoedig is.  Ons sien ander gelowiges as skynheilig, onopreg en geestelik baie agter as ons.  Ons werk harder as hulle en hulle moet soos ons word.  Die Here vra van ons ‘n baie moeilike ding as ons ander opreg moet liefhê,  dit vra dat ons ander hoër sal ag as onsself.  Dit beteken ek moet ander gelowiges sien as meer belangrik as ek.  Ander gelowiges se behoeftes is belangriker as myne, ek kan terugstaan vir ander gelowiges.  Dit beteken ek is nie op myself gefokus nie, maar gefokus op my medegelowige.  God het besluit om ons onderling afhanklik te maak in ons eie kerkfamilie.  God beveel my dit, of ek daarvan hou of nie, dit is hoe God dit bedoel het.  Om hulle met wie ek nie maklik oor die weg kom nie, lief te hê, is die hart van Goddelike liefde.  Wanneer ek iemand wat ek voel dit nie verdien nie, iemand wat ek sien as sogenaamd skynheilig  opreg liefhet en met respek en agting hanteer, staan die wêreld verstom en word dit sigbaar dat God leef.  Trouens, wanneer ons ander gelowiges wat vêr van die familie staan, liefhet, beweeg hulle dikwels ook nader aan die familie

Nadink: Is die rede hoekom jy nie almal in die kerk liefhet nie, nie dalk omdat jy hoogmoedig is nie?

Aksie: Besluit om Sondag juis hulle wat jy nie van hou nie, op te soek, te groet en te nooi om saam tee te drink.

Vra: vir God om enige hoogmoedigheid uit jou hart te neem en jou te bewaar van hoogmoed.

Lees 1 Pet. 2:17, Gal 6:10 en 1 Tess. 5:15:  Alhoewel die Here ons beveel om ons naaste en ook ons vyande lief te hê, vind ons in die Bybel tog dat my medegelowige ‘n prioriteit het bokant hulle wat nie die Here dien nie.  Die doel daarvan is eerstens dat ons so maklik al die weeskinders, boemelaars en armes kan liefhê en daarmee myself troos dat ek God se liefde in my het.  Dis makliker om hulle wat daar vêr van jou af is, lief te hê, as om hulle met wie jy jou lewe en geloof deel, lief te hê.  Dis moeiliker om mense wat aanspraak maak op jou lewensruimte, jou begeertes bedreig en naby jou is, jou irriteer en kwaad maak, lief te hê. Tweedens wil God daarmee dit duidelik maak hoe belangrik my geestelike familie is.  Dat ons nooit so sal besig raak om die wêreld te bereik, maar verby my eie familie gaan nie.  Derdens dui dit op die baie spesiale band wat daar bestaan tussen gelowiges.  Ons het een Vader, ons is almal deur God afgesonder vir sy Koninkryk, ons het almal dieselfde roeping en lewensdoel, ons is almal deur dieselfde bloed gered en verlos, ons is bloedfamilie van  mekaar.  As ons aan God deel het, het ons ook outomaties deel aan mekaar (1 Joh. 1:3)

Nadink: Het jou geestelike familie prioriteit bokant hulle wat nie medegelowiges is nie?

Aksie: Kyk na jou dagboek, hoe gaan jy maak om byeenkomste en ander geleenthede waar jou familie is, ‘n prioriteit in jou lewe te maak?

Vra: vir God om jou te help raaksien wanneer jy nie jou geestelike familie en gemeente, ‘n prioriteit in jou lewe te maak nie.

Lees Rom. 14:1-15:7: Elkeen van ons is ‘n eie unieke mens met ons eie persoonlikheid, snaaksighede, grootword ervarings, foute , geneigdhede en voorkeure.  Elkeen staan in ‘n eie unieke verhouding met God, in verskillende fases van groei, verskillende dinge waarmee God met ons besig is en ook verskillende maniere van hoe ons God verstaan en die Bybel begryp.  Die eerste stap om iemand werklik lief te hê, is om iemand te aanvaar vir wie hulle is.  Om te aanvaar dat ander van my verskil en selfs ander oortuigings het.  Ek aanvaar mense wanneer ek hulle eie uniekheid kan waardeer, bewonder, geniet, selfs daarvoor kan lag en boweal dit te probeer verstaan.  Ek aanvaar ander mense vir hul eie identiteit as ek begin ruimte maak sodat hulle ook hul eie voorkeure kan uitleef.  Ek aanvaar ander gelowiges as ek selfs kan terugstaan vir my voorkeure en geestelike groei, terwille van die ander persoon. Ek aanvaar ander gelowiges, as ek besluit om nie meer geïrriteer te raak deur hulle andersheid nie.  Opregte liefde begin by opregte aanvaarding.

Nadink: Aanvaar jy regtig ander mense vir hul andersheid of moet almal soos jy wees en dink?

Aksie: Aanvaarding is ‘n keuse, besluit vandag om ruimte te maak vir ander se andersheid.  Wat gaan jy doen?

Vra: Vra vir God om ander te aanvaar en lief te hê soos hulle is, sonder om hulle heeltyd te probeer verander.

Lees Rom. 12:9-13, 15-18 en Hand. 2:42-47:  Een van die belangrikste kenmerke van die eerste gelowiges, was dat hulle na mekaar omgesien en mekaar versorg het.  Die versorging het van fisiese dinge soos kos en besittings behels tot geestelike versorging waar hulle saam mekaar se hartseer, vreugde ens. gedeel het.  Hulle het mekaar bemoedig, siekes besoek en gebid vir mekaar.  Mekaar se seer en pyn help dra.  Natuurlik kan dit alles vandag baie beter en effektief gedoen word in ‘n omgeegroep waar ons mekaar regtig ken en mekaar se lewens deel.  Dit is daarom geweldig belangrik dat ons deel van ‘n  omgeegroep moet wees.  In ‘n groot gemeente is dit onmoontlik vir almal om met almal in so intieme verhouding te staan.  Dit is daarom noodsaaklik om iewers deel van ‘n groep mense te wees waar ek ander kan versorg en self versorg kan word.  In so ‘n groep sal ek werklik beleef wat dit beteken om deel van God se familie te wees.  Dit beteken natuurlik nie dat ek in die groter gemeente nie met iemand anders iets te doen moet hê nie.  Ek het steeds die verantwoordelikheid om ander te leer ken, vir hulle te bid, te besoek as hulle siek is, saam bly te wees en op ander vlakke saam te werk.  

Nadink: Is jy by ‘n omgeegroep of jou wyk ingeskakel? Indien nie, waarom nie?  Indien jy wel ingeskakel is by ‘n omgeegroep, is jy ook betrokke by die breër gemeente? Waarom nie?

Aksie: Wat gaan jy doen met wat jy by die Here gehoor het?

Vra: vir God om jou te wys by watter lidmate kan jy meer betrokke raak en wie jy kan leer ken. Indien jy nog nie by ‘n omgeegroep ingeskakel is nie, vra God om jou te lei om by die regte een in te skakel.

Gaan weer deur die week se gedeeltes.  Dink mooi ná, wat het God vir jou gesê en van jou gevra.

  • Hoe het jy gevorder om dit uit te voer?  
  • Hoe gaan jy reageer op wat God van jou gevra het?

GESINSGESPREK

Omgee gesels:

  • Op watter maniere sien jy vir God in ander mens raak?
  • Op watter maniere sien mense vir God in jou raak?
Woord gesels:
  • Lees Joh. 17:20-23
  • As ons as gelowiges werklik eensgesind is en omgee vir mekaar, wat sê Jesus in hierdie gedeelte sal die gevolg daarvan wees?
  • Wat beteken dit dat gelowiges mekaar moet liefhê en eensgesind moet wees?
  • Verlede week het ons gesien dat die Here vir elkeen ʼn genadegawe gegee het.  Hoe gaan jou genadegawe help om ons liefde en eensgesindheid vir mekaar dieper te maak?

Gebruike, tradisies en saamleer.

  • Wat beteken die woord seën vir jou?
  • Watter gebruike kan julle aanleer en doen by die kerk, sodat mense kan voel julle gee om?

Ons leef na buite:

Besluit as gesin om ʼn gesin in die gemeente te nooi vir ʼn ete. Besluit ook wat kan julle doen sodat die ete vir hulle baie spesiaal sal wees. Wat kan julle doen om hulle te laat voel dat julle omgee vir hulle?

HUWELIKSGESPREK

Die Here vra hierdie week van ons om in ʼn werklike eenheid met ander gelowiges te leef.  Dit begin egter deurdat ons een is in ons huwelik.  

  • Gesels met mekaar of julle werklik een is in julle huwelik.  
  • Wat beteken dit om een in siel en liggaam in die huwelik te wees? (Mal. 2:15).

OMGEEGROEP

Mens tot God:

  • Speel ʼn mooi geestelike lied terwyl almal stil en daarna luister.
  • Vra na die lied wat beteken die lied vir jou.
  • Gee geleentheid vir gebed.

Mens tot mens:

Deel in jou groep, wat beteken jou omgeegroep vir jou.

God tot Mens:

  • Waarom sukkel ons soms in die kerk om regtig vir mekaar om te gee?
  • Lees  Hand 2:42-47.
  • Wat tref jou in die gedeelte?
  • Watter vier dinge het die eerste gemeentes saam gedoen?  Waarom is elkeen so belangrik?
  • Hoe kan julle hierdie vier dinge in julle kleingroep laat gebeur?  Gesels in baie detail oor elkeen.
  • Wat gaan ons doen om in ons gemeente ‘n atmosfeer en klimaat te stel van omgee, vriendelikheid en betrokkenheid by mekaar?
  • Lees Rom 12:13. Hoe kan ons maak om meer gasvry te wees teenoor nuwe lidmate en ander gaste?
  • Hoe kan ons maak om meer mense te laat inskakel by omgeegroepe?

Mens tot medemens:

  • Wat gaan julle omgeegroep prakties doen sodat ons gemeente gasvry sal wees, lidmate ‘n werklike omgee in ons gemeente kan ervaar en mense by omgeegroepe te laat inskakel?
  • Sluit in die groep af deur vir ons gemeente se onderlinge liefde te bid.

God werk deur sy familie.

Ons kan nie net lekker warm in ons nessie by die huis sit nie.  Iewers moet kinders begin uit beweeg om die wêreld te verken.  Tieners het daardie natuurlike drang om te begin dinge doen buite die gesin en op hulle eie.  Hulle wil ook voel ek word vertrou om in die wêreld in te beweeg en self daar te leef.  Die lekker van Tiener-wees is dat ek altyd ‘n veilige plek het om terug te keer – my familie.  Hulle verdra my as ek foute maak, moedig my aan om weer uit te beweeg en dra my as ek swaarkry.  In die kerk is ons soos Tieners.  Die Gees van God dring ons om na buite te beweeg, daar ‘n verskil te maak en terug te keer om ondersteuning, liefde en optel te ervaar.    

Dagstukkies:

Lees Luk.24:45-49 en Hand 1:8:  Die kerk is nie net ‘n familie wat aan God behoort nie, maar ook ‘n familie wat in diens van God staan.  Ons het nie net die opdrag om vir mekaar te sorg en lief te wees vir mekaar nie, maar ook om hierdie liefde en genade van God na hulle buite die familie te neem.  Ons opdrag is om hulle wat buite die familie staan, te vertel van hierdie familie wat deur God gered is en aan Hom behoort.  Ons moet aan hulle deel dat daar vergifnis van sonde is en dat Jesus se kruisiging die manier is hoe ons in ‘n verhouding met God kan staan.  Net soos ons nie kan kies of ons vir ons medegelowiges wil lief wees nie, net so kan ons ook nie kies of ons in diens van God wil staan nie.  As jy ‘n gelowige is, mag jy nie anders as om betrokke te wees by jou familie nie, jy mag ook nie anders as om in diens van God te staan nie.  Dis een pakket wat saam met ‘n verhouding met God en sy redding kom.  Die roeping van God is egter nie so maklike ding nie.  Jesus sê hy stuur ons soos skape onder die wolwe in.  Ons beleef teenkanting, weerstand en raak baie maal moedeloos.  Dit is daarom dat ons die kerk so nodig het.  Dit is daarom dat dit so belangrik is om deel van ‘n omgeegroep of wyk te wees.  Mense wat jou kan help om jou fokus te behou en nie jou roeping verloor nie.  Gelowiges wat mekaar aanmoedig as die arms en knieë lam en moeg raak.  Gelowiges wat saam bid vir mekaar en vir ons roeping in die wêreld.  Ons kan nie effektief God se roeping uitleef as ons nie omring word deur medegelowiges nie.

Nadink: Het jy ‘n ondersteuningsisteem van gelowiges wat jou aanmoedig, vir jou bid en jou help om nie jou visie en roeping as Christen in diens van God te verloor nie?

Aksie: Besluit wat gaan jy doen om so ‘n ondersteuningsgroep in jou lewe te kry.

Vra: vir God om jou te help om by die regte mense uit te kom vir so ‘n groep.

Lees Heb. 10:24-25:  Ons sien dikwels hierdie teks as ‘n gedeelte wat ons laat skuldig voel omdat ons nie so betrokke is by die kerk nie.  Dit was nooit die doel van die gedeelte nie.  Wanneer ons in die wêreld in beweeg tussen ongelowige mense of mense wat beweer dat hulle gelowiges is, maar nie so optree nie, dan is die gevaar dat ons ook later so kan dink en optree.  God se roeping vir ons is om in die wêreld te wees en daar ‘n verskil te maak. Wanneer ons dit doen, is dit gevaarlik, want ons kan maklik die gewoontes en maniere van die wêreld aanneem.  Daarom die Here se opdrag in hierdie gedeelte om naby jou medegelowiges te leef.  Om medegelowiges te hê wat nie net my aanmoedig om God se roeping uit te leef nie, maar om ook na my geloof en wandel met die Here om te sien.  Gelowiges wat my verhouding met God op die hart dra en daar is om my te help as die gewoontes en denke van die wêreld aan my afsmeer. Wat my help om te bly heilig leef ten spyte daarvan dat ek in die wêreld werk, maar nie van die wêreld is nie.  ‘n Groep teenoor wie ek my hart oopmaak en toelaat om na my te kyk.  Vir baie mense is ‘n omgeegroep of jou wyk so ‘n plek.  Dis ook eintlik hoe dit hoort.  Sommige van ons wat aan ‘n omgeegroep of wyk behoort voel dalk dis ‘n bietjie naby aan my, ek het net twee of drie betroubare medegelowiges nodig vir hierdie doel.  Hoe dit ook al vir jou werk, dit is belangrik dat ons minstens twee of drie persone in ons lewe het, wat ek vertrou en by wie ek my hart kan oopmaak.  Iemand wat my lief genoeg het om na my te kyk. Ons noem dit ‘n accountability group”.  Dit is nie dieselfde as ‘n mentor nie, maar persone in wie se lewe ons wedersyds ‘n verskil kan maak en omgee.  Hierdie rol kan ook deur my huweliksmaat vervul word, maar verkieslik deur persone van buite my gesin, van dieselfde geslag of deur ‘n omgeegroep.  Sulke persone is daar om sommer net mens se hart oop te maak, te deel hoe gaan dit geestelik met jou, saam jou te bid en ‘n lekker koffie te drink.

Nadink: Het jy mense in jou lewe wat jy vertrou om na jou te kyk?  Wie kan jy vra vir so ‘n groep?

Vra: vir God om jou te wys wie jy kan vra om jou “accountability partners” te wees.

Aksie: As jy nie reeds deel van so ‘n groep is nie, neem jy die inisiatief om so ‘n groep te begin.

Lees 1 Pet. 2:9: Die kerk se groot taak en roeping is nie om net met mekaar besig te wees nie, maar om die evangelie van Jesus in hierdie wêreld in te dra.  Die kerk is ‘n sentrum vir reldevangelisasie. God se strategie om die wêreld te bereik met die evangelie is deur die plaaslike kerk te vestig.  So ‘n kerk is die bron van God se werking  wat na die uithoeke van die aarde vloei.  God begeer dat elke mens die evangelie moet hoor.  Elke gemeente het daarom ‘n groot klomp sendelinge, naamlik die lidmate van daardie gemeente.  Elke lidmaat is ook ‘n gestuurde in hierdie wêreld in – ‘n sendeling.  Daar waar lidmate beweeg, by hulle werk, vriende of ander aktiwiteite, daar beweeg God se sendelinge in die wêreld in.  Wat ‘n magtige weermag van God is die kerk nie!  Sy sendelinge infiltreer elke aspek van ons samelewing.  Die kerk is egter nie net elke lidmaat op sy eie daar in die wêreld nie – dit natuurlik ook – maar die kerk is ook ‘n weermag wat haar kragte, hulpbronne en vaardighede saamvoeg om saam ‘n groter verskil te maak as wat enkelinge alleen kan doen.  Ons kan dinge vanuit die gemeente aanpak wat baie groter is as wat net enkelinge alleen kan doen.  God se medewerkers in sy koninkryk werk dus alleen, in aspekte van die samelewing waar die kerk as organisasie nooit toegelaat sal word om te werk nie. Ons ons werk egter ook saam, daar waar iets te groot is vir een of net ‘n paar persone.  Vir hierdie alleen werk, het ons gesien, is jou gemeente baie nodig om jou te ondersteun.  Vir die gesamentlike werk is jou gemeente baie nodig om groter dinge te doen as net jy alleen.  Die kerk is nodig vir jou om effektief ‘n verskil in die wêreld te maak

Nadink: Hoe en waar is jy besig om hierdie wonderlike boodskap van Jesus aan ander bekend te maak, alleen en gesamentlik?

Aksie: Wat gaan jy doen om aan hierdie opdrag van die Here gehoor te gee?

Vra: vir God om jou te wys en geleenthede vir jou oop te maak om die goeie nuus van Jesus te deel.

Lees Matteus 5:13-16, Matteus 10: 5-8, Jakobus 1:27 en Jesaja 58:6-7: Ons gemeente is in die wêreld gestuur nie net om die goeie nuus te verkondig nie, maar ook om ‘n verskil te maak aan mense se fisiese omstandighede en nood.  Die kerk het ook die funksie om mense kos te gee, siekes te versorg, hulle wat deur die samelewing uitgestoot word nader te trek, op te staan teen onregverdigheid en talle ander praktiese maniere om mense se lewensomstandighede te verander.  Ons gemeente het die opdrag om sout te wees, om dus van die wêreld ‘n beter plek te maak. Waarom?  Omdat die kerk liefhet met die liefde van Jesus.  Hierdie liefde en besorgdheid wat ons vir ons eie familielede het, moet en sal oorspoel na hulle buite die familie.  As ek leer om opreg besorg te wees oor my medegelowiges, sal ek ook opreg besorg wees oor nie-medegelowiges.   My liefde is dus nie net vir my broers en susters nie, maar my liefde word nou naasteliefde – enige iemand wat my pad kruis.  Ons kan weer-eens nie hierdie groot opdrag van God alleen uitvoer  nie, daarom het ons mekaar nodig.  In ons gemeente gooi ons al ons hulpbronne saam by die Barmhartigheidsbediening,   waar elkeen wat iets kan gee, iets bydra. Jy kan ook behulpsaam wees om hierdie middele op praktiese wyse te help uit deel.  Kom gesels oor jou betrokkenheid daarby.

Nadink: Het jy ‘n hart vir mense wat swaarkry, eensaam is, onregverdig behandel word of behoeftig is op ‘n manier?

Vra: vir God om sy hart en liefde vir mense ook buite die kerk te wys en dit in jou hart te kom plaas.

Aksie: Wat gaan jy doen om ander se nood te verlig?

Lees Matt. 5:14-16:  Ons leef in ‘n wêreld waar mense dink hulle verstaan hoe die lewe werk.  In hierdie proses maak mense hulle self baie seer en ook die ander om hulle.  Ons eie wysheid en denke bring dikwels vir ons pyn en ‘n lewe wat nie vervulling bied nie.  Die Bybel noem dit duisternis.  Die familie van God het daarom nie net ‘n roeping om die evangelie met mense te deel en mense se nood te verlig nie, maar ook ‘n roeping om ‘n lig in hierdie duisternis te wees.  Nie omdat ons so intelligent of slim is nie, maar omdat God sy Woord aan ons bekend gemaak het.  Die Here het sy lig en wysheid en insig aan die kerk gegee om ook aan ‘n wêreld met duisternis, lig en rigting te gee.  Wanneer die wêreld begin funksioneer op God se beginsels, gebeur daar net so baie meer en funksioneer die hele wêreld net baie beter.  Elke gelowige het dus ook ‘n taak om in sy besigheid, in sy werksituasie of enige ander plek, God se beginsels aan mense deur te gee.  Al glo mense nie noodwendig in God nie, funksioneer ‘n wêreld net baie beter wanneer ons leef en optree volgens wat God vra.  As ons eerlik is, werk aan karakterbou, mense in ‘n besigheid vir ons belangrik is en nie net geld nie, volhard, hard werk ens. funksioneer alles net beter.  Ons het dus die taak om aan hierdie wêreld rigting en leiding te gee.  Die kerk het nodig om ook as kerk saam die wêreld aan te spreek, waar mense se waardigheid aangetas word, en uitbuiting plaasvind.  

Nadink: Op watter maniere is jy besig om by die werk God se beginsels vir ‘n gewone eenvoudige lewe deur te gee.  Jou werk het jou verskriklik nodig daarvoor.

Vra: vir God om jou oë oop te maak om geleenthede raak te sien om lig te wees  en leiding te gee.

Aksie: Wat gaan jy doen met wat God vandag vir jou sê?

Lees Gen. 1:27-28: Ons leef dikwels asof ons net vir die lewe hierna leef.  So asof hierdie lewe nie saak maak nie.  Terwyl Jesus baie duidelik vir ons sê die ewige lewe begin reeds hier op die aarde wanneer ek deur Jesus gered is.  God het nooit bedoel dat hierdie lewe net maar ‘n gesukkel en gestoei moet wees tot ek gelukkig doodgaan nie.  God het ook bedoel ek moet nou hier op die aarde leef met oorvloed.  Daarom is deel van my lewe om ‘n beroep te beoefen en iewers betrokke te wees waar ek ‘n bydrae lewer tot hierdie aarde en die samelewing. Om as mens besig te wees iewers in my beroep of as Ma met my kinders by die huis, is ek besig om God se eerste opdrag naamlik om die aarde te bewoon en te bewerk, na te kom.  Wanneer ek besig is in my besigheid, beroep of as tuisteskepper by die huis, is ek al klaar besig om God te verheerlik deur van hierdie wêreld ‘n beter plek te maak, in ‘n behoefte te voorsien, die lewe vir mense makliker en draagliker te maak.  Daarom is my beroep op sigself alreeds om God se opdrag aan ons uit te leef van ons roeping as kerk.  Ek kan dus nooit my beroep los sien van my Christen wees nie.  So asof my beroep onbelangrik is, so asof dit maar wêrelds is en by die kerk is ons besig met God se dinge.  My beroep as gelowige is ook om besig te wees met God se dinge – God se opdrag.  Die manier hoe ek dus werk – asof ek dit vir die Here doen- is ook om God te verheerlik, is ook ‘n getuienis na die wêreld, is ook ‘n roeping van God.  

Nadink: Beleef jy jou beroep as ‘n roeping van die Here waar jy eintlik besig is om vir Hom te werk?

Vra: vir God om jou te help om jou werk na die beste van jou vermoë te doen, om ‘n goeie diens te lewer.

Aksie: Besluit om anders na jou beroep te kyk en jou beroep te hanteer as ‘n roeping van God.  

Oordink wat God hierdie week vir jou gesê het. Besluit op een ding wat jy hard aangaan werk en prakties gaan doen. Praat met die Here daaroor.

GESINSGESPREK

Omgee gesels:

Hoe voel dit om ʼn Christen te wees tussen mense wat nie Christene is of soos Christene leef nie?
 
Woord gesels:
  • Lees Lukas 24:45-49
  • Wat is Jesus se opdrag in hierdie gedeelte en wat presies sê Hy moet ons doen?  
  • Wat beteken elkeen van die dinge vir ons vandag?

Gebruike, gewoontes en saamleer.

  • Indien julle dit nog nie gedoen het nie, kry ʼn wêreldkaart en begin om elke week vir ʼn spesifieke land te bid.  
  • Teken in op ʼn nuusbrief van ʼn sendingorganisasie en maak elke week tyd om vir die betrokke organisasie te bid.  
  • Besluit saam as gesin hoe en wat julle gaan doen om gereeld vir die wêreld te bid.

Ons leef na buite:

Ons het baie mooi gehoor dat die Here vir ons die opdrag gegee het om in die wêreld ʼn verskil te gaan maak.  

  • Hoe gaan julle gesin dit prakties doen?
  • Dalk julle gereeld oor ʼn naweek iewers heen uitreik, soos om kos te gee, traktaatjies te gaan uitdeel ens.  Dalk kan julle gesin met so bediening begin en die res van die gemeente saamnooi.  Julle kan dalk as gesin ʼn plek soos ʼn sendingstasie of ʼn sendeling betrokke raak wat nie te ver is nie en sommige vakansies daarheen gaan en dit gaan besoek.  Julle kan ook die res van die gemeente saamneem.  Dalk kan julle ʼn gesin wat swaarkry in die dorp aanneem en sommer net lief wees vir daar die gesin of op ʼn manier vir hulle help.

HUWELIKSGESPREK

Julle is nie net toevallig as huwelikspaar bymekaar en hier in die dorp nie.  
  • Gesels met mekaar wat is julle twee saam se visie en doelwit in die Here se Koninkryk?  
  • Wat is dit wat julle saam kan doen waarin julle die wêreld kan verander?  
  • Wat is julle gesamentlike passie?  
  • Hoe gaan julle iets daaraan doen?

OMGEEGROEP

Mens tot mens:

Deel met mekaar hoe julle jul beroepe beleef.  

  • Wat is vir jou sleg?  
  • Is jy opgewonde oor jou werk?

Mens tot God:

  • Lees Psalm 16 stadig deur.
  • Wat tref julle in hierdie Psalm.
  • Watter dinge in jou lewe is jy die dankbaarste en blyste oor?
  • Gee geleentheid vir gebed waarin julle vir God dankie sê vir so baie dinge in jou lewe.

God tot Mens:

  • Lees Markus 6:7-13.  
  • Wat val julle op van hierdie gedeelte?
  • Waarom is die dissipels twee-twee uitgestuur?  
  • Wat leer dit ons vir vandag en van kerk-wees?
  • Wat moes hulle alles doen en wat is die betekenis daarvan vir ons vandag?
  • Lees Matteus 10:16-30.
  • Wat kan alles met gelowiges gebeur as hulle in die wêreld in beweeg?
  • Hoe is dit van toepassing op vandag?
  • Wat kan ons doen in ons gemeente om ons medegelowiges meer te bemoedig, te versorg ente motiveer om in die wêreld aan te gaan om ‘n verskil te maak, al is dit nie maklik nie?
  • Watter toerusting het julle nodig van ons gemeente om daar buite effektief Christen te wees?  
  • Waarin wil julle graag opgelei , geleer of gehelp word?
  • Gesels met mekaar hoe kan jy jou beroep as ‘n roeping sien en dalk ook omswaai sodat jou beroep ook ‘n bediening word?

Mens tot medemens:

  • Gesels hoe kan julle as omgeegroep saam prakties ʼn verskil maak buite die gemeente?  Wat gaan julle doen?

God praat met sy familie.

Hierdie beginsel laat ons dink aan ‘n peuter, wat leer om te begin praat en leer om te luister na die ouers.  Die beste manier waardeur kinders taal aanleer is om tyd met hulle ouers deur te bring.  As ons wil leer om God te hoor praat en om met Hom te praat, sal ons tyd met God en met mekaar moet spandeer.  God wil met ons en met sy kerk praat, ons moet net leer om te luister.

Dagstukkies:

Lees Heb. 11:6 en Efe. 1:22-23 en Joh. 5:19-20:  As ons glo dat God bestaan en dat Jesus die hoof is van die gemeente dan sal ons moet baie erns maak om te verstaan hoe lei Jesus sy gemeente en wat sê Hy vir hulle.  Die Vader het gedurende Jesus se hele lewe, in Jesus gewerk en Hom gelei.  Jesus het presies dit gedoen wat die Vader wou hê Hy moes doen.  Die Vader se wil was die fokus van Jesus se lewe, nie Sy wil nie, maar die Vader se wil.  Nadat Jesus opgevaar het na die hemel, het hy sy dissipels en dan ook die kerk geroep en aangestel om sy liggaam, wat nie meer hier is nie, in die wêreld te wees.  Die kerk moet dus nou aangaan om te doen wat Jesus op aarde besig was om te doen, naamlik om sy Koninkryk hier te vestig.  Jesus het ons egter nie alleen gelaat nie, maar Hy is hier by ons deur sy Gees.  Hy is egter nou Gees hier op die aarde en het daarom ‘n liggaam nodig om sy werk te doen.  Die kerk is daardie liggaam.  Net soos die Vader Jesus gelei het op die aarde om sy wil te doen, net so lei Jesus vandag deur sy Gees die kerk om te doen wat die Vader se wil is.  Elke gemeente is uniek met ‘n eie bediening waarvoor hulle geroep is en daarom is dit so noodsaaklik dat ons mooi moet hoor wat God se spesifieke wil vir ons is.

Dink na: Hoe belangrik is dit vir jou dat ons gemeente sal doen wat God wil hê ons moet doen?

Aksie: Wat gaan jy doen om seker te maak dat dit wel gebeur?

Vra:  vir God om ‘n dringendheid in ons harte te plaas om seker te wees ons weet wat Hy van ons gemeente verwag.

Lees Lukas 6:11-13:  Jesus het baie tyd alleen deurgebring om te bid en seker te maak Hy weet wat die wil van die Vader is.  Net voor Hy sy dissipels gaan kies het, het Hy ‘n hele nag lank gaan bid oor wie Hy moes kies.  Jesus het tyd daaraan bestee om die wil van sy Vader te ken.   Ons neem dikwels persoonlik, en ook in die kerk besluite wat ons sommerso op die ingewing van die oomblik besluit en doen.  Natuurlik lei die Here ons ook deur ons verstand en ons glo dat Hy ook in ons emosie en ons wil vir ons lei.  Ons lees ook in die Bybel wat God se wil is en op grond daarvan neem ons besluite.  Tog sien ons dat Jesus ook tyd in die teenwoordigheid van sy Vader spandeer het.  Hy het sy Vader op ‘n baie intieme manier ontmoet om die Vader se leiding te vra, ‘n saak deur te worstel met die Vader, te bid tot Hy vrede in sy hart gekry het oor wat die wil van sy Vader is.  Ons kan nooit in die kerk of in ons persoonlike lewe, sommer net voortgaan om besluite te neem, sonder om in die teenwoordigheid van God te wees nie, sonder om ook ons afhanklikheid van God te besef en sonder om seker te maak ons het vrede in ons hart dat dit die wil van God is nie.

Nadink:  Spandeer jy genoeg tyd by die Vader om seker te maak wat sy wil is vir jou persoonlik, maar ook om te hoor wat sy wil is vir jou gemeente?  Het jy al God geraadpleeg oor jou gemeente se pad vorentoe?

Aksie: Begin om die Here te vra wat sy wil is vir jou gemeente.  Gaan deel dan jou antwoord met ‘n leraar.

Vra: vir God wat sy wil is met jou gemeente.

Luk. 19:46: In Hand. 2:17-18 sê God dat Hy nie net meer deur belangrike mense in die kerk praat nie, maar Hy praat met sy kerk deur die hele kerk.  Elke lidmaat word iemand wat God kan hoor en verstaan en kan meedoen daaraan om God se leiding vir sy gemeente te ontvang.  Ons moet net vra.  Die probleem is dat ons nie vra nie.  Daarom speel gebed en ook ‘n gemeente se gesamentlike gebed soos ‘n biduur ‘n geweldige rol.  Alhoewel ons in ons eie binnekamer en in ons omgeegroepe bid, is dit so noodsaaklik dat God se gemeente saamkom om te bid.  ‘n Biduur is eintlik die hartklop van God se gemeente, dis die konferensielokaal met God.  Deur gebed vra ons nie net nie, maar deur Gebed praat God ook met ons.  Deur gebed het Jesus geweet wie moet Hy kies as sy dissipels.  Deur gebed kry mens dikwels nuwe insigte, nuwe gedagtes van die Here.  Deur gebed hoor ons ook ander gelowiges se nuwe insigte wat van die Here af kom.  Reg deur die boek Handelinge lees ons hoe die kerk gereeld bymekaargekom en gebid het.  ‘n Kerk wat nie saam bid nie, sal nooit ‘n geesvervulde en dinamiese kerk wees nie, iewers gaan altyd iets kort.

Nadink: Woon jy die gebedsgeleentheid by die kerk by?  Waarom nie?

Aksie: Wat gaan jy doen om saam  met jou familie te bid en God se leiding te soek?

Vra: vir God om jou ‘n dringendheid en passie vir gebed te gee.

Lees Jes. 55:8-9, Spr. 3:5-6 en Jer. 33:2-3:  Gebed is krities noodsaaklik vir die kerk.  Alhoewel ons natuurlik met mekaar moet gesels, ons verstand moet gebruik en die Bybel moet lees, is God se manier van doen dikwels anders as ons manier.  Die Bybel sê ons kan nie net ons eie denke en insigte vertrou nie.  Dit is heeltemal onmoontlik om God se weë deur menslike redenasievermoë alleen te kan verstaan. Die beste en slimste mense kan God nie verstaan nie.  Die beste boeke oor kerkgroei sal ons nie vertel hoe God ons gemeente wil lei en wil laat groei nie.  Dit kan ons help en God kan dit ook gebruik, maar God alleen kan sy gemeente laat groei en doen wat Hy wil hê.  Ons moet vertrou dat God ons sal lei as ons op Hom vertrou.  Net omdat ons God se weë nie kan ontsyfer nie, beteken dit nie ons kan nie sy weë ken nie.  As ons Hom aanroep en as ons tyd maak om te bid, sal Hy ons antwoord en vir ons dinge vertel wat ons nie weet nie.  Ons probleem is dat ons funksioneer volgens wat sin maak.  God het ons reeds vertel dat Hy nie sal sin maak volgens menslike redenasies nie. Daarom moet ons saam bid en God soek vir sy leiding.

Nadink: Stem jy saam en koop jy dit wat in die verse hierbo in die Bybel staan?  Begryp jy die belangrikheid van saam na God se wil soek?

Aksie: Hoe gaan hierdie verse jou lewe verander?

Vra: vir God om jou te laat besef dat ons deur menslike redenasie nie God se weë kan begryp nie.  Bely jou afhanklikheid van God.

Lees Hand 13:2, Hand 2:43-47 en Heb. 10:25:  Reg deur die Bybel, ook in die Ou Testament, het God se familie gereeld bymekaargekom om te bid en te aanbid.  Daar bestaan nie iets soos ‘n Christen wat alleen op sy of haar eie funksioneer nie.  Die Bybel ken nie ‘n familie van God wat nie mekaar gereeld sien en saam aanbid nie. Dit was gedurende so ‘n bymekaarkom geleentheid dat God met die gemeente in Antiogië gepraat het om Paulus en Barnabas as sendelinge uit te stuur. God praat ook veral met sy gemeente deur eredienste.  Aanbidding is veel meer as om bloot kerk toe te kom om te sing, na ‘n preek te luister en met vriende om te gaan. Dis ‘n geleentheid om God van aangesig tot aangesig te ontmoet.  Dis die geleentheid waar God met sy gemeente praat deur die Woord en gebed.  Dis die geleentheid waar God se familie die kans kry om te reageer op wat God vra.  Ongelukkig het eredienste met die loop van die jare iets geword wat alleen deur ‘n Leraar gelei word en daar maar min geleenthede was vir lidmate om ook aktief te kon deelneem aan so ‘n diens.  Daarom wil ons graag vir lidmate al meer die geleentheid gee om te kom getuig en te kom deel wat God op hulle harte lê. Om op ‘n manier ‘n bydrae te maak in die erediens, deur te bid, iets te lees, iets te sing, of sommer net vriendelik wees met die mense om jou.  ‘n Erediens is veral ‘n tyd waar ‘n gemeente die Here moet hoor praat en ook vir mekaar moet deel wat die Here vir ons sê en wat ons gehoor het by God.  Die tee drink na die tyd kan juis ‘n wonderlike geleentheid wees  waar ons met mekaar gesels oor wat ons by die Here gehoor het.  Ons moet nie net ‘n erediens sien as dat God met my persoonlik praat nie, maar ook dat God met ons kerk praat.

Nadink: Watter bydrae kan jy maak in ons eredienste?

Aksie:  Kom gesels asb. met een van die leraars oor watter bydrae jy in die erediens kan maak.

Vra: vir God dat ons eredienste regtig ‘n plek van ontmoeting sal wees en dat ons daartoe sal beweeg om al meer ingestel te wees dat lidmate daaraan kan deel hê en dat ons regtig gemeenskap met mekaar sal ervaar.

Lees Hand. 15:1-22: God praat nie net deur my eie persoonlike lewe met die kerk, deur gesamentlike gebed of die erediens nie, Hy praat ook deur omgeegroepe, vergaderings van bedienings, Bybelstudiegroepe ens.  Ons lees in Handelinge hoe die kerk vergadering gehou het en met mekaar gedeel het wat God op hulle harte geplaas het.  Hulle het van mekaar verskil, maar bly soek tot hulle by ‘n antwoord uitgekom het en geglo het dis hoe God hulle lei.  Daarom is vergaderings en omgeegroepe so belangrik.  Ons hoor ook daar hoe God ons wil lei.  In ‘n gemeente het elkeen ‘n eie bydrae om te lewer en daarom sukkel die kerk dikwels omdat ons afwesig is by ons omgeegroep of vergadering of omdat ek dalk nie daarvan deel is nie.  My spesifieke insig en bydrae wat die Gees deur my werk, kan nie gelewer word nie.  ‘n Stukkie van God se legkaart vir die gemeente is dus afwesig en ontbreek.

Nadink: Wat is jou spesifieke bydrae waar God jou wil gebruik, en deur jou met sy kerk praat in ons gemeente?

Aksie: Wat gaan jy doen om iewers ‘n bydrae te maak in ons gemeente?

Vra: vir God om jou te wys waar is jou plek waar jy ‘n bydrae in ons gemeente moet maak.

Gaan deur die week se gedeeltes vir elke dag.  

  • Besluit op ‘n teksgedeelte wat jy graag dieper in jou hart wil bêre. Lees dit weer en oordink dit weer baie deeglik.
  • Besluit wat het God vir jou hierdie week gesê, en besluit wat gaan jy prakties daaraan doen.

GESINSGESPREK

Omgee gesels:

Deel met mekaar hoe beleef julle praat die Here met julle.
  • Hoe weet julle die Here praat met jou.
  • Gee voorbeelde van verhale waarin julle beleef het die Here jou lei.
 
Woord gesels:
  • Lees Matteus 21:12-13 en Hand. 13:1-3.
  • Wat het die gemeente gedoen toe die Here hulle oortuig het om Barnabas en Saulus uit te stuur as sendelinge?
  • Watter plek speel gebed in die ken en weet wat die wil van die Here is?
  • As die kerk ʼn plek van gebed moet wees, hoekom bid ons as gelowiges so min, by die huis en by die kerk?

Gewoontes en tradisies:

Besluit saam as gesin hoe julle jul gebedslewe saam as gesin kan verander.  Maak dit vir julle spesiaal. Kry ʼn spesiale gebedstyd en plek in die huis. Maak dalk ʼn hoekie in die huis met kussings op die grond waar julle kan kniel en lekker kan saambid. Maak die plek vir julle interessant en mooi.

Ons leef na buite:

  • Wat kan julle as gesin doen om gesamentlike gebed by die kerk te bevorder.  
  • Hoe kan ons maak om baie by die kerk te bid?  
  • Gesels met die Leraar of julle wyk hieroor.

HUWELIKSGESPREK

Gesels met mekaar hoe kan julle maak om saam die Here se wil vir julle te onderskei.  Maak bv. ʼn tyd waar julle saam kan praat oor wat die Here die afgelope week met elkeen individueel in jou stiltetyd gepraat het.  
Kyk of julle saam kan agterkom hoe die Here julle lei en watter insigte Hy vir julle gee.  Besluit ook om tyd te maak om saam te bid oor die Here se leiding vir julle en sommer vir baie ander sake ook.
 

OMGEEGROEP

Mens tot mens:

  • Deel met mekaar wat was jou grootse verleentheid in ‘n kerk of iemand anders se verleentheid wat jy gesien het.
  • Wat het jy Sondag in die erediens ervaar?  Kon jy regtig vir God ontmoet, het jy beleef dat God met jou praat en dat God met die gemeente praat?  Wat het Hy gesê?

Mens tot God:

  • Gee geleentheid vir stilgebed terwyl op die agtergrond instrumentale musiek speel.
  • Deel met mekaar wat julle ervaar het in julle stilgebed.  Dalk het God op ‘n manier met iemand in of deur die gebed iets duidelik gemaak, nuwe insig gegee of sommer net iets van God beleef.
  • Laat iemand bid en die Here se seën vra vir die byeenkoms.

God tot Mens:

  • Die Bybel sê dat Jesus die hoof van die kerk is wat sy kerk lei.  
    • Dink julle ons kan in alle eerlikheid sê dat Jesus ons gemeente lei?  
    • Weet ons regtig wat wil God vir ons gemeente?  
    • Kan ons sê wat ons doen, doen ons omdat Jesus ons so gelei het?
  • Wat dink julle is daar in ons gemeente wat ons doen wat God ons nie so gelei het nie.
    • Wat is daar wat ons nie doen nie, wat ons weet God lei ons so maar ons doen dit nie?  
    • Hoe weet jy God lei ons so?
  • Lees 1 Kor 14:26.  Ons vind in die Bybel dat daar ‘n baie sterker saak uit te maak is vir verskillende lidmate se deelname aan die erediens as net een persoon wat alles doen.
    • Hoe kan ons dit prakties in ons gemeente maak dat meer lidmate ‘n aandeel in die erediens het?  Watter aandeel sal die lede in julle omgeegroep byvoorbeeld wil hanteer?
    • Hoe kan ons maak in ons gemeente om lidmate saam te neem in hierdie proses om die wil van die Here te onderskei vir ons gemeente se doen en late?  Kyk of julle ‘n model of metode kan ontwerp om dit te doen? Hoe gaan ons byvoorbeeld kan maak dat julle omgeegroep julle insigte aan die leraars of kerkraad kan deurgee?

Mens tot medemens:

  • Watter praktiese aksie gaan julle neem om dit wat julle bespreek het, waar te laat word?  
  • Glo julle die planne en gedagtes wat in julle omgeegroep na vore gekom het, kom van Jesus af wat julle gelei het?  As dit so is, het julle ‘n geweldige verantwoordelikheid om toe te sien dat dit geïmplementeer word.  Wat gaan julle doen?

‘n Lewe van vrygewigheid.

Iewers in ons lewens begin ons met regte verantwoordelikheid optree.  Ons neem goeie besluite, werk verantwoordelik met wat aan ons toevertrou is en sorg ook vir ons gesin.  ‘n Teken van Christene se volwassenheid word dikwels ook gesien in hoe hulle vir God se familie verantwoordelikheid neem en sorg.  Die manier en wyse waarop ek met geld en my offergawe werk, sê baie oor my volwassenheid as Christen.

Dagstukkies:

Lees 2 Kor. 8:1-5, 9:7-8:  Deel van gemeente-wees en deel van volwasse christenskap is om te gee.  Ons het dikwels in die verlede al so negatiewe assosiasie opgebou oor ons offergawe en om te gee, dat ons soms die ware betekenis en diepte daarvan miskyk.  Om te gee is ‘n voorreg.  Dit is eerstens ‘n erkenning dat dit wat ek ontvang het, ‘n gawe van die Here is.  Dit is ‘n erkenning dat alles van my aan die Here behoort.  Dit is die wonderlike voorreg om saam met God in hierdie wêreld te offer, iets prys te gee.  Dit sê dat ek iets verstaan van God se karakter naamlik sy offervaardigheid.  Daarom is dit alleen volwasse christene wat werklik verstaan en besef wat dit beteken om te gee, om saam met God te offer.  Natuurlik gee ons op baie maniere; en ook op baie maniere buite die kerk.  Die Bybelse beginsel bly egter dat daar waar ek aanbid en deur die Here geseën word, daar waar ek deur God self in die liggaam ingeplaas is, daar lê my eerste verantwoordelikheid van gee in God se koninkryk.  Ons vind dit reg deur die Ou en Nuwe Testament dat gelowiges hulle offergawe na die plek van aanbidding gebring het.  Dit maak ook baie sin dat dit so moet wees.  Daar waar ek aanbid, moet ek ‘n sinvolle bydrae lewer om die gemeente in stand te hou.  Dit gaan egter baie vêrder as dit, my bydrae, saam met die bydraes van ander gelowiges, maak dit net meer moontlik om op ‘n groter skaal en basis ‘n verskil in die wêreld te maak.  Deur baie se bydrae kon ons ‘n kerk bou in Uitbreiding 24, ons kon ‘n kleuterskool daarstel waar 200 arm kinders daagliks kos kry en goeie onderrig ontvang.  Deur baie lidmate se offergawes kon ons ‘n dienssentrum in Uitbreiding 24 vestig waar meer as 70 bejaardes kos kry en vaardighede aanleer.  Saam is ons net beter as wanneer jy alleen op jou eie iets vir die Here wil doen.

Nadink: Is jou offergawe aan die Here iets wat jy as ‘n voorreg sien? Gee jy regtig met ‘n blymoedige hart?

Vra: die Here om jou hart en oë oop te maak om te verstaan hoe bevoorreg ons is wat het, en dat ons offergawe daardeur ‘n erkenning aan God vir sy goedheid is.

Aksie: Besluit hoeveel jy dink die Here van jou verwag om as offergawe vir jou gemeente te gee.

Lees Matteus 5:23-24 en 23:23-24:  My offergawe kan nooit ‘n plaasvervanger word van my praktiese diens aan die Here nie.  Lidmate dink soms dat my offergawe is my praktiese diens aan die Here en dit sus my gewete om nie vêrder in die Here se koninkryk betrokke te raak nie.  My offergawe is, is in die eerste plek ‘n erkenning van God se goedheid aan my en kan nooit my fisiese betrokkenheid by medegelowiges, my manier van optree of om deel van God se familie te wees, vervang nie.  Ek mag nooit die gee van geld gebruik om my gewete te sus omdat ek nie by my geestelike familie betrokke is, of omdat ek skuldig voel dat ek nie my kant bring deur fisies betrokke te wees nie.  Dis baie keer  makliker om net ‘n bedrag geld te gee, as om self in te klim en die werk te doen.  Die twee sluit mekaar nooit uit nie en die een kan nie ten koste van die ander gedoen word nie.

Nadink: Gebruik jy dalk soms geld om jou gewete te sus omdat jy nie so betrokke by die liggaam van Christus is nie?

Vra: vir God om jou hart te ondersoek en seker te maak wat is die motief hoekom jy gee.

Aksie: Moenie ophou gee nie, maar raak ook fisies by jou familie betrokke.

Lees Matteus 6:24-34:  Soms is ons huiwerig om te gee, omdat ons in ons hart geld baie liefhet, meer liefhet as die Here en sy Koninkryk.  Dit beteken dat ek so bang is ek ontsê myself iets omdat ek gegee het.  Dit beteken ook dat ek bang is dat ek dalk nie weer gaan terug kry nie.  Dit beteken dat ek wat al baie het, nog meer soek en nie genoeg kan kry nie.  Dit beteken dat ek nie bereid is om met minder klaar te kom ter wille van die Here en sy Koninkryk nie.  Dit beteken geld beheer my en nie ek wat geld beheer nie.  ‘n Materialis is nie noodwendig iemand met baie geld en besittings nie.  Soms is dit die armste mens wat ‘n materialis is.  Die vraag is nie wat maak jy met R100 nie.  Die vraag is wat maak R100 met jou?  Gewoonlik as ons so ingestel is op geld, word ons ongemaklik as daar oor geld gepreek word.  Die persoon wat vry is van die mag van geld, het gewoonlik nie ‘n probleem met dit as nog geld benodig word of as daar gepreek word oor geld nie.  So persoon voel ook nie dat leraars hulle probeer manipuleer om nog geld te gee nie.  Iemand wat vry is van geld, kan nie gemanipuleer word deur ander mense oor geld nie.  Hulle gee soos hulle voel die Here hulle lei.  

Nadink: Is jy regtig vrygemaak van geld of beheer geld en besittings nog vir jou?

Vra: vir God om jou hart te ondersoek en jou bewus te maak daarvan as geld nog vir jou ‘n probleem in jou lewe is.

Aksie: Wat gaan jy doen om los te kom van die mag van geld?

Lees 2 Kor. 8:6-15 en 9:6-15 en Mal 3:10:  Hoeveel moet ‘n mens gee vir die Here, ‘n tiende van alles of watter persentasie?  Ons verstaan die 10de in die Ou Testament verkeerd as ons dink daar word van 10% gepraat.  In die Ou testament word daar van baie meer as die 10 de gepraat, daar word ook van die eerste gawe van die oes gepraat en heelwat ander offergawes.  ‘n Tiende het daarop gedui dat die eerste en die tiende skaap of gerf aan die Here en sy werk gegee is.  Dit is 20%!  Die bedoeling was nooit om in persentasie te werk nie, maar om uit die hart te werk soos 2 Kor. 9:7 ons wys.  Die eerste en 10de was ‘n teken dat alles tussen ook aan die Here behoort.  Dit was dus ‘n belydenis dat al my besittings aan die Here behoort.  As die Here dan sê bring die volle tiende, dan beteken dit bring alles wat jy het en gee dit aan die Here.  Hoeveel moet ek dan gee aan God as my offergawe.  Soos jy in jou hart voorgeneem het om te gee en met blymoedigheid.  Die beginsel hier in 2 Kor. Is dat hulle wat baie het, baie kan gee en hulle wat min het, minder kan gee.  Moet net nie jouself in armoede dompel met wat jy gee nie.  Daarom sal iemand soos Bill Gates dalk 95% van sy inkomste kan gee as offergawe en steeds met 5% gemaklik kan leef.  Iemand anders sal 5% van hul inkomste gee en sukkel om te leef.  Die vraag is nie watter persentasie van wat nie.  Die vraag is hoeveel ontvang ek van die Here om weg te gee.  Dit is iets wat ek met God self in my hart uitmaak omdat ek dankbaar is vir die oorvloed wat ek ontvang.  Die reël is gee, gee so veel as wat jy kan.  Die wêreld is honger en dors na die evangelie en na kos.  Gee soveel jy kan, want daarbuite is baie wat dit nodig het.  Om te gee is ‘n voorreg.

Nadink:  Is dit wat jy tans gee as jou offergawe werklik dit wat God van jou vra?

Vra: vir God hoeveel wil Hy hê jy maandeliks as jou offergawe en as jou geloofsbelofte offer moet gee.

Aksie: Besluit om te gee soos die Here dit op jou hart gelê het en jy dit met Hom uitgemaak het.

Dink na oor die week wat verby is se gedeeltes asook oor die hele 40 dae.  

  • Wat is die belangrikste dinge wat God jou geleer het?  
  • Wat is jou antwoord aan God?

GESINSGESPREK

Omgee gesels:

As mense na jou kyk wat jy aantrek en hoe jy lyk, wat wil jy hê moet hulle van jou weet of dink?
 
Woord gesels:
  • Lees 2 Kor. 8:12-15 en 9:7-8
  • Watter beginsels gee die Here vir ons om in gedagte te hou wanneer ons ons offergawe gee?
  • Hoe gaan julle dus besluit watter bedrag om as offergawe aan die Here te gee?

Gebruike en gewoontes:

  • Maak ʼn lekker spesiale ete en maak die tafel ook mooi.
  • Gesels met mekaar oor wat het julle tydens die 40 dae geleer en hoe het dit julle lewe in die gemeente verander?

Ons leef na buite:

  • Besluit op ʼn bedrag wat julle as gesin vir die Here kan gee as ʼn offergawe.
  • Besluit watter bydrae kan die kinders maak.
  • Besluit ook watter bedrag kan julle as gesin gee vir die GBO en op watter maniere kan julle dalk ʼn ekstra geldjie kry om vir die GBO te gee.

HUWELIKSGESPREK

Ons belê baie keer in baie ander dinge in ons lewe, maar nie in ons huwelik nie. Besluit op ʼn bedrag geld wat julle wil spaar of eenkant wil sit, wat julle kan gebruik om in julle huwelik te belê.  Besluit wat wil julle doen en hoe gaan julle daarvoor spaar.
 

OMGEEGROEP

Mens tot mens:

  • Deel met mekaar wat was die belangrikste dinge wat julle geleer het in hierdie 40 dae?

Mens tot God:

  • Lees Psalm 23 baie stadig twee maal deur.
  • Wat raak jou in hierdie Psalm?
  • Hoe laat die Here jou beker oorloop?
  • Gee kans vir gebed om vir die Here dankie te sê vir ons beker wat oorloop.

God tot Mens:

  • Hoekom voel mense baie maal ongemaklik as daar oor geld gepreek word of as daar selfs bydraes gevra word?
  • Lees 2 Kor. 8:1-15.  Vertel vir mekaar wat val julle op in hierdie gedeelte?  Wat spreek jou aan?
  • Dink julle volgens hierdie gedeelte dit is reg dat daar vir bydraes gevra word en dat lidmate aangemoedig word om te gee? Of moet ons net daarvoor bid en vertrou dat God sal voorsien?
  • Lees 2 Kor. 9:6-14.  Wat sê God vir ons hierin oor die gee van ons offergawe?
  • Wat beteken vers 6 vir ons prakties?
  • Hoe weet ‘n mens hoeveel wil die Here hê moet ek gee as my offergawe?
  • Dink julle dit is reg as mens baie geld weggee vir verskillende goeie sake maar vir my gemeente gee ek net R100?
  • Dink julle ons is baie eerlik voor God as ek ‘n salaris van R40 000– 50 000 en meer verdien en my offergawe is R100-R500?  
  • Lees Markus 12:41-44.  Wat maak julle met hierdie gedeelte?  Wat beteken dit vir ons prakties?
  • Wanneer is iemand materialisties?

Mens tot medemens:

  • Hoe gaan dit wat jy in hierdie 40 gehoor het, die res van jou lewe verander?  Wat gaan jy prakties doen?
  • Bid saam vir ons gemeente se finansies en dat lidmate se harte sal oopgaan om te gee.
  • Besluit om volgende week weer bymekaar te kom en saam tee en te kuier.  Gee iewers tydens die geleentheid ‘n kans vir lede om te deel wat was hulle ervaring van die 40 dae en wat het God in elkeen se lewe gedoen.
  • Besluit ook saam by volgende week se geleentheid, wat is die pad vorentoe vir julle?